Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Tuesday, February 22, 2011

TUSSENSPEL

MY LIEWE ESTHER, TONIE


Ek en Ingrid is oor die algemeen nie wetenskapfiksieliefhebbers nie - vir ons is die sogenaamde normale wêreld alreeds onbegryplik genoeg; gaan kyk maar net na die INSIDE JOB waarna ek vroeër op MIERLEEU verwys en probeer die spektakel verstaan wat daar in die Arabiese wêreld afspeel.
Twee uitsonderinge op bogenoemde algemene reël is - altans vir mý - die heel eerste MATRIX-fliek en die boek SOLARIS van die Poolse skrywer Stanislaw Lem, waarvan 'n slegte fliek met George Clooney gemaak is.


Aangesien ek en Ingrid gewoonlik BBC TV kyk, het ons die reklame vir hul huidige reeks, OUTCASTS, gesien, maar nie veel belangstelling gehad nie, want dit is...scifi, behalwe dat die landskap nogal my aandag getrek het.
Verder kyk ons byna elke aand elfuur na die BBC se 10 o' clock news en een aand is ons toe 'n bietjie vroeg vir die nuus en sien toe 'n deel van die aflewering van OUTCASTS, insluitende die lang lys van erkennings aan die einde. 
Wat my opgeval het in die episode sélf, was toe nié soseer die landskap nie, maar die plantegroei - wat ek herken het as die unieke Kaapse fynbos, wat so uniek is soos die Noorsveldplantegroei.
Intussen het ek die episode terugwerkend opgeneem en ná die nuus gaan kyk na die erkennings aan die einde daarvan en toe sien ons dit krioel van die (Suid-) Afrikaanse name, dus was dit maklik om die kloutjie by die oor te bring en nou volg ons die reeks.


Uitgereken in die aflewering waarna ons gisteraand gekyk het, was daar 'n nuwe karakter met die naam Patrick (Pak) Baxter (regs op die foto)

 wat vir die ander twee karakters gesê het dat die planeet Carpathia die mense nie (daar) wil hê nie...


Die verslaggewing vanoggend oor die aardbewing in Christchurch, maak dié uitspraak van Baxter baie minder scifi en ons hoop en vertrou dat julle en jul naasbestaandes nog uithou.


Sterkte


pi






No comments:

Post a Comment