Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Monday, February 7, 2011

SO NÁ MY HART

Afrikaans: Opmerkings
Johannes Comestor 
2011-01-31



Ek het waardering vir Jap Rap se bydraes oor Afrikaans. Onlangs het ek in Kristalle: gekeurde essays, saamgestel deur Martin J Serfontein (Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 2de druk, 1951), GS Nienaber se bydrae, "Benaming van ons taal" (p 62-68), gelees. Dit bied ’n interessante perspektief op hedendaagse pogings om Afrikaans veeleer as ’n Afrikataal (pleks van as wesenlik ’n Europese taal) voor te stel. Dit is deesdae politiek-korrek om so inheems moontlik te probeer wees.
Nienaber noem dat die vorm wat Nederlands mettertyd plaaslik aangeneem het aanvanklik Kaaps-Hollands genoem is. Daarna is die naam tot Kaaps verkort. Teen 1800 was die verskille tussen Hollands en Kaaps reeds baie opvallend. Hierna volg die Groot Trek en die stigting van die republieke in die noorde. As benaming was Kaaps dus voortaan om geografiese redes nie meer aanvaarbaar nie. Daar is toe "gesondig deur oordrywing" (p 65) deur die taal Afrikaans te noem.
Die woord Afrikaner kom reeds vroeg in die 18de eeu in gebruik. Daar is toe ook al van die Afrikaansch-Hollandsche taal gepraat, sodat die verkorting van die naam tot Afrikaans verstaanbaar is. Albei benamings, Afrikaner en Afrikaans, kry hulle beslag met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 in die Paarl (dus in die suide). Oor hierdie saak was sommige mense in die suide en die noorde dit blykbaar eens.
Deesdae word Europa met beskawing en voorspoed en Afrika met agterlikheid en ellende geassosieer. Dit dui op die kontras tussen die Eerste en die Derde Wêreld. Enersyds kan ’n mens vrede met jou omstandighede maak en trots op Afrika probeer wees. Andersyds kan jy idealisties wees en bly hunker na jou historiese wortels. Dan besef jy dat die benamings Afrikaner en Afrikaans nie net oordrewe nie maar hoogs ongewens is. Daarom meen ek dat ons beter benamings, waarin die verwysing na Afrika ontbreek, moet vind.
Die grammatika van Afrikaans en ruim negentig persent van sy woordeskat bevestig sy aard as wesenlik ’n Europese (veral Indo-Germaanse, dus nie-Afrika) taal. Om politieke redes word daar deesdae graag op ’n oordrewe manier gewag gemaak van die bydrae wat inheemses en ingevoerde slawe tot die totstandkoming van Afrikaans gelewer en die woorde wat hierdie groepe toegevoeg het. Maar ’n baie klein persentasie woorde kom uit hierdie oord en hulle bydrae tot die standaardisering en uitbouing van die taal is nog minder. (Let op die volgende eienaardige verskynsel. Wanneer die politieke maghebbers oor iets besluit, word die belange van die sowat twintig persent nie-swartes meesal geïgnoreer. By Afrikaans word daar egter verwag dat ’n minder as tien persent bydrae oorskat moet word.)
Wanneer dit by taal-lojaliteit kom, druip nie-wittes heeltemal. Op die platteland is daar steeds mense wat goeie Afrikaans as eintlik hulle enigste taal praat en by wie die kwessie van lojaliteit nie ter sprake kom nie. Maar in die stede en groter dorpe word Afrikaans (in soverre hierdie taal nie vermy word nie) op ’n onsensitiewe manier en (onder andere) om politieke redes hoogs dislojaal, onnodig en oorvloedig met Engelse woorde besmet.
Hieraan gee ’n koerant soos Son uitdrukking en bestendig hy om finansiële gewin die misbruik van Afrikaans. Sogenaamde Afrikaanse televisiekanale doen hieraan mee. Selfs die suile van die Afrikaanse Taalmonument buig voor politieke korrektheid. Daar is ’n lesingreeks oor Afrikaans begin wat na ’n ANC-aktivis genoem is en die genooide sprekers het reeds meer as een bevrydingsteoloog ingesluit, wat in albei gevalle heel voorspelbaar groter geduld met taalverbastering bepleit het.
Taalkundig beskou sou dit meer sin hê om diegene te vereer en as sprekers te betrek wat hulle spore in Afrikaans verdien het. Hoeveel erkenning het die werk van bv die Nienabers (CJM, GS en PJ) werklik ontvang? Of dink aan bv Jaap Steyn wat nog met ons is. Afrikaners kan gerus gehoor gee aan sy oproep tot taalgetrouheid. Met Afrikaans moet ons daarna streef om in 1ste Laan, nie in 7de Laan nie, te wees.
Baie wittes ondersteun gedwee of by verstek anti-Afrikaanse neigings. Enersyds om politiek-korrek te wees. Andersyds (en dalk veral) omdat hulle geen of min insig het in hoe die ideologiese stryd teen wittes (en veral teen die Afrikaner) gevoer word. Raed-na-Gael en Jaco Fourie het onlangs op SêNet hulle voorkeur vir Engels bo Afrikaans uitgespreek. Ek dink ’n Afrikaner behoort homself op die skouer te klop as hy suiwer Afrikaans (eerder as goeie Engels) skryf en praat en hy dit oral doen waar dit enigsins prakties moontlik is. Doen hy dit nie, het hy nie taaltrots nie; soos algemeen voorkom by diegene wat ’n Afrikataal as moedertaal het en dit graag vir Engels verruil.
Maar daar is diegene wat Afrikaans as moedertaal het en ’n intreerede aan ’n histories Afrikaanse universiteit lewer (in die teologie), of aan ’n dubbelmedium maar oorwegend Afrikaanse universiteit (in die vak Afrikaans), en dan onder die voorwendsel dat daar enkele werklike of verbeelde eentalige Engelse mense in die gehoor is, dit om hoofsaaklik politieke redes in Engels doen.
Wanneer die jeug aangespreek word, soos in die koerantbylae Jip, word daar doelbewus en met oorgawe met Afrikaans gemors. Op hierdie manier word taal-lojaliteit en taalsuiwerheid op 'n vroeë ouderdom by Afrikaanse sprekers ondermyn. So ’n taal kan nie ’n mooi toekoms hê nie. Op die langer termyn sal wat Afrikaans was, soos die land, onherkenbaar ontaard.

Ek verskaf voorbeelde van taalgebruik in die konteks van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika. Die volgorde van die voorbeelde is bepaal deur wanneer hulle by my opgekom het. Soms word die geldigheid van die voorstelle deur die konteks bepaal.
Dit het in die spreek- en selfs skryftaal toenemend mode geword om Engelse woorde soos die volgende te gebruik. Hierdie woorde is onnodig omdat goeie (en in die konteks dus beter) Afrikaanse woorde beskikbaar is: lodge – herberg; resort – oord; township – swart woonbuurt (eintlik: woonbuurt vir/van swartes), lokasie, plakkerskamp; venue – lokaal; game– spel, wedstryd; band – orkes; song – liedjie; issue – kwessie. Tydens die onlangse krieketwedstryde teen Indië het SABC 3 met die skaars gebaar gekom om ook ’n bietjie Afrikaanse kommentaar toe te laat. Hierdie kommentator is egter so gewoond daaraan om Engelse terme te gebruik dat ek die kommentaar in Engels verkies het.
Omdat die maghebbers en posbekleërs deesdae Engels is of probeer wees, word teks meesal in Engels geskep en daarna soms in Afrikaans vertaal. Dan gebeur dinge soos die volgende: this – hierdie (pleks van: dit); prepared – gereed (pleks van: bereid); was – was (pleks van: is). Laasgenoemde het ’n groot verpesting geword. Sedert almal gelyk verklaar is en diversiteit as verpligting geloof word, kan kromsprekers Afrikaans geweld aandoen met: "die kolwer was uitgevang", "dertig insittendes was gedood in die minibus", ens. Die meervoud word verkeerdelik gebruik wanneer van bv padwerke en die Drakensberge gepraat word.
Afrikaans verdwyn al hoe meer uit die openbare lewe. Anglisismes is skynbaar Afrikaans en as sodanig word hulle al hoe meer, maar verkeerdelik, geduld omdat hulle darem nie gewoon Engels is nie:sleutelbord – toetsbord; sleutels – toetse; insleutel – intik, inpons; as sulks– as sodanig; as volg - soos volg; so – dus; soos – namate. Onlangs het ek van "soomloos" in groot letters in ’n koerantopskrif gelees, terwyl "naatloos" bedoel word. Duikkloppers dink blykbaar dat hulle in aansien styg as hulle hulleself paneelkloppers noem.
’n Verwante probleem is verafrikaanste Engelse woorde. Byvoorbeeld, ek is oortuig daarvan dat as “begrip” pleks van “konsep” gebruik word, verstaan/begryping bevorder sal word. SêNetters skryf oor stringteorie in die fisika terwyl dit snaarteorie heet. Daar was ’n tyd toe daar op SêNet knaend van fineer pleks van vernis geskryf is. Lui joernaliste sonder taaltrots vertaal "journal" as "joernaal" pleks van dit ’n vaktydskrif te noem. Ek het hierdie gruwelike fout al talle kere onder die sondaars se aandag gebring, maar sonder sukses.
Hier oorkant my blyplek het mense ingetrek wat tradisioneel nie in die buurt hoort nie. Ek kon dit dadelik hoor. In die woonstel word Afrikaans gepraat, maar as die paartjie laatmiddag in die openbaar op die balkon sit, praat hulle net Engels. Na ’n maand of twee het hulle ook op die balkon Afrikaans begin praat. Die kinders speel graag, soos hulle voorheen gewoond was, met ’n bal in die straat. Wanneer hulle in die supermark kom en daar balle te koop is, word die spel tussen die rakke voortgesit. Dit word kultuur genoem en sulke verskille moet glo erken en geduld word. Hulle Engelse skool dra by om ’n volslae gemors van hulle moedertaal, Afrikaans, te maak.
In my boerehart gee dit werklik aanstoot. Ander mense glo aan leef en laat leef en beweer dat ek moet bykom, dus meer in harmonie met my veranderende omgewing moet wees. Ek vind dit moeilik, indien nie onmoontlik nie. Ek is dermate ’n Afrikaner en Afrikaans dat ek wens die C in my van eerder ’n K was.

Johannes Comestor

No comments:

Post a Comment