Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Tuesday, February 15, 2011

NOORSVELD- EN ANDER GEDAGTES 3

MY LIEWE NEEF, NIGGIE


Terwyl ek en Miss Molly ons apokaliptiese tóg in die droë rivierloop voortsit, merk ek dat, ondanks die droogte van Ou Testamentiese afmetinge, daar in die noors- en spekboombegroeide klofies so 'n eteriese misnewel hang.


Dit was nog vroe in die more en ek sien 'n stuk songebleikte geraamte onder die los riviersand uitsteek en toe ek daaraan trek, kom daar die helfte van 'n eselskakebeen te voorskyn en soos ek dit in my hand neem, word ek die gewig daarvan gewaar en weet dat jy daarmee maklik 'n man-of-drie die ewigheid in kan help.


Die misnewel in die klofies herinner my aan kompleet dieselfde versluierende newel wat gereeld soggensvroeg oor so 'n reghoekige dam gehang het reg langes die paradegrond van die Leërgimnasium, waar ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand en waar ons eindelose ure met parades of drilopleiding deurgebring het.
As ek my reg herinner, was ek, Adriaan Swanepoel en Gerhard Oosthuizen die enigste drie uit ons matriekklas wat ons diensplig in 1972 gedeeltelik daar gedoen het.


Op dié tydstip het ek nog nie geweet hóé my en Miss Molly se tog sou eindig nie: 
Sou ons reddeloos verdwaal in die newels van Avalon of sou ons kruistog eindig in die hart van duisternis?


Gegroet


Petrus 

No comments:

Post a Comment