Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Monday, March 22, 2021

VIR KAREN NORTHSHIELD

 

presies ’n ewigheid en sewe dae

ná die aanvang van die dolksteekpyn

verseker dié infanterie-instrukteur jou:

die beserings waaronder jy vandag nog ly

klassifiseer wel deeglik onder oorlogswonde.

 

ongevraag en ongesien dra jy die littekens van die lewe

sonder oorkonde of lint as medaljes op jou lyf

en uiteindelik is dit net jy wat weet

dis nie goud of silwer of brons wat meet

hoe mateloos heldhaftig mens is nie,

maar uitsluitlik jou wíl om te oorwin.

 

wanneer jy in die eensame, klein ure van die nag

nie genoeg sye het om op te lê nie

is jou worsteling in die bedding van die Jabbok

nie teen mense nie, maar teen bose geeste in die lug

 

en uiteindelik is al wat bly

jou deursettingsvermoë en jou wilskrag

waarmee jy eksponensieel

die krag van andere laat groei

 

en jy geen deel vorm

van ’n bende lamlendige meelopers

die ewige slagoffergespuis,

maar ’n lid word van die korps van

 

ONOORWINLIKES