Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Sunday, February 6, 2011

FANUS


Niemand wil nét ’n grapjas wees nie

2011-02-05 17:03

In vroeër dae was dit nou die tyd om al Fanus se prestasies op te grawe en neer te pen. Nie meer nie. Sy hele storie is ’n paar muisklikke op die internet weg vir wie ook belangstel. Die man is dood, laat ons hom finaal opsom, was die houding.

Nou doen hulle dit lewend op die internet.

Dis oor daardie opsommings van wat ’n lewe was waaroor ons onder meer gepraat het toe die slapeloosheid hom om die een of ander rede ná ’n TV-opname waaraan ons deelgeneem het, ingehaal het: oor wat die joernaliste grafskrifte noem en hoe ’n mens onthou word ná jou dood.

Oor wat van jou agterbly.

Ek onthou die aand van ons gesprek baie goed. Ons was ongehoord ingeboek in ’n erg weelderige gastehuis naby Rawsonville, en ek en Fanus moes ’n kamer deel. Ons het, “soos hetero’s op trips maak”, albei geskop teen die idee. Maar so was dit: ’n enorme luukse kamer met ’n badkamer met borrelbad en al, en ons beddens het heelwat meters uit mekaar gestaan. “Jy in jou klein hoekie en ek in mijn,” het hy gesê.

Hy’t ’n uur of twee voor my gaan slaap, want onder waar die gesels gedreun het, het Frik du Preez die kitaar nadergetrek en dan was gaan slaap nie meer ’n opsie nie. Maar later is ek op kamer toe. Fanus se bed was omgekrap, maar leeg. Ek het hom in sy nagklere in die badkamer gekry: ouer geword, skraal, witgebleik en anders as gewoonlik ’n bietjie krom.

“Sukkel om te slaap,” het hy gesê. “Ek is moeg en swaarmoedig en julle spul daar onder lawaai soos ’n laerskoolfunksie.”

Toe gaan haal ek maar die bottel Zonnebloem wat ek vir latere verwysing agter die tafelpoot weggesteek en daar vergeet het, en ons praat die nanag in: oor hoe jy onthou sal word. En oor hoe dit is om so bekend te wees soos hy en wat dit aan jou lewe, jou gesindhede, jou ego en jou siel doen.

Ek neem aan ek sou hom geprys het om sy bui te lig: hoe hy gesorg het dat die oggend-radio vir Afrikaans terugverower word, die wyse waarop hy luisteraarsbetrokkenheid ontgin het, die sukses van Flinkveria en al die nuutskeppinge wat hy die taal binnegebring het, ensovoorts.

Van sy reaksies onthou ek net sommige:

Oor die Republiek van Flinkveria: “Dit was ’n speletjie.”

“Nie altyd vir jou mede-aandadiges nie,” sê ek. “Vir baie van jou volgelinge was dit ’n helse voorreg en vir party kennelik ’n geleentheid om te bak in die weerkaatsings van jou glorie…”

“Hulle was my pelle en het geweet ons speel sommer. Moenie hulle verkleineer nie. Hulle was net goed vir my.”

O! Ek het ’n heiligheid raak getrap: spel, speletjie…

“En die ander goed? Die uitsaaiery waar jy kort-kort in die moeilikheid was oor ’n skuinse opmerking of twee? Was dit ook speletjies?”

“Ja, maar met erns daaragter. As jy mense vermaak, lyk net die oppervlak lig, maar die verantwoordelikheid bly joune. As jou sêgoed misluk, of jy praat by hulle verby, dan laat jy hulle en jou goeie naam in die steek.”

Ek onthou ons het toe gepraat oor hoeveel drif en moeite agter die humoriste sit: Hoe besete Schuster werk, hoe Tolla aan stories skaaf, en Jan Spies aan sy stelwyse en aksent, en Nico Nel aan sy tydsberekening, Danny Pretorius aan sy Zoeloe-stories, tot Koos Meyer aan sy op-die-hoef-ontdekkings. Ons het gepraat oor die vlaag van humor wat storievertel ná Spies en Plessis getref het. Ook oor hoe elkeen sy ding op sy eie manier doen en humor sonder deernis neig tot holheid.

Dit was toe dat ek Fanus se bydrae vir hom moes definieer: woorde, sy ongelooflik-skeppende vermoë om met woorde en elke woord se moontlikhede om te gaan. “Jy’s verslaaf aan woorde en hulle skerwe en spatsels en gloede en moontlikhede. Jy kan ’n woordspeling nie uitlos nie. En jy’s verdomp die beste, dié dat die volk so oor jou is: Jy doen dinge met hulle taal; jy maak hom selfs mooier. Nie net jou humor nie, ook jou ernstiger werk.”

“Ek is bly jy sê dit; niemand wil net ’n grapjas wees nie. Dis speletjies; dis rolle.”

En hy haal Shakespeare aan oor die wêreld wat ’n speeltoneel is waar elkeen maar sy rol speel. “Eintlik baie rolle: By die huis is ek ’n pa; by Vroutjie Douwtjie ’n poging tot ’n minnaar; by…”

“By die publiek?”

“By die publiek Fanus Rautenbach. Nog ’n masker. Grapjas?”

“Hoekom speel jy dáái rol?”

“Ek wonder baie daaroor. Brood op die tafel? Goedkeuring in mense-oë? Ego? Hoe moet ek weet? Dalk is ek maar aanmekaargesit om die lewe ligter te laat lyk. Maar soms dink ek: Dis dalk ’n kors om die private binnesiel te verdoesel; die seerkryplekke te beskerm. Dalk salf. Dalk kors. Dalk ontvlugting. Weet nie, weet net dis soms erg ongemaklik… en lekker.”

Die oggendlig van Rawsonville het ons by die tafeltjie waar ons sit en praat het, gekry. Die wyn was skaars aangeraak. Maar ek het geweet ek het effens agter sy masker kon inloer na waar sy verskuilde pit dalk sit.

“Hoe gaan hulle jou onthou, Fanus?”

“Verkeerd, skeef, soos alle openbare mense onthou is. My naam kom dalk op ’n klip, of hulle strooi my as waar hulle dink ’n ou sentiment geheers het. Maar iets in my wil altyd skree: Dis nie ek nie. Dis nie die rêrige ek nie; ek het sommer gespeel… of so iets. Dalk leef ’n klompie woorde wat ek help maak het in my taal voort. En dis dalk al genoeg vir my. Al die ander onthoue van wat ons was, is maar met griffels op leie geskryf en die dood se nat lap is gou by. Dalk laat mens êrens in ’n hart ’n hol kol… vir ’n ruk.”

Hoe het ons by herinnering en grafskrifte in koerante uitgekom?

Ek weet nie. Dit was nie die wyn nie, maar ons het belowe: Die een wat agterbly sal, as hy ’n grafskrif oor die ander skryf, nêrens ’n grappie probeer maak nie, en nêrens, maar nêrens, die gestorwene tot ’n oorvereenvoudigde maskerbeeld verminder nie. Want dít was nie hy nie, sy menslike volledigheid was oneindig baie meer.

No comments:

Post a Comment