Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Wednesday, February 9, 2011

NOORSVELD- EN ANDER GEDAGTES 2

MY LIEWE NEEF, NIGGIE


Op Straatdrift is die ou werfhek onder by die Pearston-Waterfordpad met 'n motorhek vervang.
Vroeërdae was daar reg langes die werfhek 'n dam met 'n lae grondwal wat soortvan geplavei was met sulke groot, plat rivierklippe.


Vandat ek my geheue kom kry het, het wyle Oom Piet Stradrif altoos die kinners gewaarsku om weg te bly van dié dam af "...anders gaan die Watermeid julle vang..."
Selfs as kind het jy eintlik stilswyend geweet dat dit 'n bangmaakstorie is, maar wanneer jy alleen deur daardie hek moes loop, het jy die digbegroeide, verste deel van die damwal behoedsaam uit die hoek van jou oog dopgehou... 'n mens weet maar nooit...


Dan was daar die kere wat jy die hek in die donker vir 'n motor moes oopmaak. Dis nog reg wanneer die helder voorligte op jou skyn en die insittendes jou kan sien, maar daardie ewigheid ná die motor die hek deur is en dis net jy, die opdwarrelende stof in die onheilspellende, rooi agterligte, die weerbarstige plaashek en die koue, klam asem van die Watermeid in jou nek - dis die mees intense gevoel van verlatenheid  onder die Suiderkruis in 'n godverlate Noorsveld...


Geen wonder dat die hek met 'n motorhek vervang is nie. Alhoewel die windpomp met...


FLINT & WALLING, MFG. CO.
KENDALLVILLE, IND. USA


...op sy vlerk nog steeds daar staan, is die Watermeidnes weg, maar die herinnering is vasgelê in die knogte van my siel en laat my ook dink aan Laurika Rauch se Ballade van Jacob F. de Beer 

Eens oor die motorhek draai ek links af in Pearston se rigting en merk dat Miss Molly haar nie deur die motorhek laat keer nie, maar soos wafferse plaashond iewers 'n deurkomplek het.
By Straatdrift se eerste sementblad loop ons in die (bykans) droë rivierbedding óp tot by die eerste uitkeerwal waar ons kleintyd die allerindrukwekkendste bergpasse uit 'n redelike hoë, goudgeel waaisandbank uitgekerf het en waarop ons dan met ons karretjies gespeel het.


Dié sandbank is egter ook weg en ek en Miss Molly draai om en dwaal vol heimwee in die rivierbedding af in Waterford se rigting.
Daar's net so 'n katspoegie syferwatertjie wat hier en daar nog kuile in 'n andersins kurkdroë rivier vorm en ek wonder of die Watermeid  dalk na een van die kuile uitgewyk het, maar Miss Molly het haar dié oggend nie opgejaag nie.


Heelwat later het ek haar híér teëgekom.


Met granate en lemoene


Petrus

No comments:

Post a Comment