Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Sunday, December 25, 2011

GETUIENIS 1

My de-bekering

Deur Prof. Neels Moolman op 1 Julie 2011

Inleiding

As 16-jarige skoolseun het ek die eerste groot krisis in my lewe ervaar. My pa is oorlede aan maagkanker op 56-jarige ouderdom. Tydens 'n emosioneel belaaide reeks evangelisasie-dienste onder leiding van Ds. Danie Steyn het ek tot bekering gekom en besluit om my lewe te wy aan die verkondiging van die boodskap van Jesus Christus.
Gedurende my tweede jaar op Universiteit (toe was ek al 21), ten spyte van verdere en verdiepende toewyding, verloor ek my moeder aan borskanker. Ek's nou op my eie en sit my studies in die Teologie voort op 'n deeltydse basis. Ek begin wonder en selfondersoek doen. Ek het dan, net soos in my pa se geval met soveel opregtheid gevra dat my ondersteuning-sisteem sou behoue bly. Weereens moes ek rasionaliseer. God se weë is nie ons weë nie.
Weens 'n gebrek aan fondse moes ek voltyds gaan werk by die RGN waar my loopbaan half outomaties dryf in 'n navorsingsrigting. Ek eindig op as navorser in die Geesteswetenskappe by UNISA, trou in 1972 en is die Pa van 'n trotse gesin met drie kinders 'n paar jaar later.
Twintig jaar gelede tref die derde krisis my. My vrou begin 'n buite-egtelike verhouding en wil skei. Vir drie jaar kruip ek letterlik my knieë deur voor God. Ek glo dit wat ek vra, is binne Sy wil want GOD HAAT EGSKEIDING. Maar helaas weereens word my gebed nie verhoor nie. Ons skei. Ek's weer baie gelukkig getroud nou al vir 21 jaar. Drie maande gelede kry ek 'n e-pos van my eks-vrou waar sy sê dat ons egskeiding die grootste fout was wat sy in haar lewe begaan het.
Bostaande gebeure is kortliks die omstandighede wat tot 'n dieper besinning oor Godsdiens in die algemeen gelei het. Ek het gevind dat rasionalisasie 'n besondere sterk rol speel binne gelowe indien gebede nie verhoor word nie. Al word die verhoring van gebede belowe en dit gebeur nie, word daar gerasionaliseer deur te beweer dat God beter weet as jy en dat Hy net die beste weet wat goed is vir jou. Waarom het God my dan 'n gesonde verstand gegee? As dinge wat ek vra toevallig realiseer, het God my gebed verhoor, PRYS SY NAAM. As dit nie realiseer nie, aanvaar dit HY WEET ALTYD BETER.
Ek kon nie die saak hier laat nie. Vir die afgelope 20 jaar het ek my eie navorsing begin doen. Hierdie dokument maak nie daarop aanspraak om 'n akademiese dokument te wees nie. Die inhoud is wel verkry vanuit akademiese dokumente wat verslae is van wetenskaplike navorsing op die gebied van die argeologie en Godsdiens Geskiedenis en Vergelykende Teologie. Indien nodig kan die nageslane werke behoorlik geïnkorporeer word en op 'n akademiese wyse hanteer word met volledige verwysings en 'n bibliografie.
Die doel van die dokument is om my persoonlike siening en DE-BEKERING te formuleer en te motiveer. Dis die resultaat van meer as 20 jaar se naslaanwerk en studie. Die afgelope 30-40 jaar word gekenmerk deur heelwat navorsing deur Teologie- en Bybelnavorsers veral met die ontdekking van die "Dead Sea Scrolls" en die publikasies voortvloeiend uit die Jesus Seminaar, veral t.o.v. die Vyf Evangelies. Hierdie nuwe kennis het daartoe aanleiding gegee dat ek moes onderskei tussen die Mitologiese Jesus en die Historiese Jesus.

Die Maagdelike Geboorte

Hoeveel maagdelike geboortes was daar in die geskiedenis? Vir ons as Christene is vertel dat daar slegs een was naamlik die van Jesus wat in Bethlehem gebore is uit die maagd Maria.
Die waarheid egter, is dat daar meer as vyf (5) dosyn gevalle was van maagdelike geboortes in die geskiedenis meestal van religieuse figure.
Een duisend agt honderd jaar vC. is 'n uitbeelding uitgegrafeer van Koning Amunothph III op die mure van die groot tempel van Luxor van sy aankondiging, konsepsie en geboorte wat feitlik 'n presiese weergawe is van die aankondiging, konsepsie en geboorte van Christelike Jesus.
In die Romeins/Griekse konteks is daar Demeter en Persephone, Rhea en Zeus, Apollo.
In Egipte, die maagdelike moeder Isis wat geboorte gee aan Horus.
In Frigië, word Attis gebore uit die maagd Nama.
'n Nimf wat besig was om te bad in 'n rivier in China word aangeraak deur 'n lotusplant, en die heilige Fohi word gebore.
In Siam streel 'n verdwaalde sonstraal 'n tiener meisie en die groot en wonderlike Condom word gebore.
Oor Boeddha lees ons dat hy afdaal oor sy moeder Maya, "in likeness as the heavenly queen, and entered her womb, and was born from her right side, to save the world."
In Griekeland, besoek die jong Apollo 'n mooi meisie van Athene en Plato se aankoms in die wêreld word aangekondig.
In Griekeland word Adonis uit 'n maagd gebore en opgewek uit die dode nadat hy gedood is deur 'n wilde beer. Die Fenisiërs het Adonis beskou as 'n voortdurend sterwende en opgestane god en die Atheners het 'n jaarlikse fees gehou vir Adonis om sy dood en opstanding jaarliks in die somer te herdenk.
'n Merkwaardige storie word op die Amerikaanse vasteland vertel deur die Asteke en Mayas, oor die god-man Quetzalcoatl. Hy is nie net uit 'n maagd gebore nie maar was geassosieer met die planeet Venus, die môrester, soos Jesus was. Verder is die kruis deur hulle gebruik as 'n simbool vir Quetzalcoatl. Soos Jesus het Quetzalcoatl ook gesê dat hy sal terugkeer om sy aardse koninkryk toe te eien.
Mithras was 'n Persiese God wat ook uit 'n maagd gebore is maar was meer as slegs 'n stamgod. Mithras is in 'n grot gebore en het 12 metgeselle gehad. Mithras se verjaarsdag is ook gevier op 25 Desember. Beide godsdienste het die opstanding gevier gedurende die paastyd. Die profeet Zoroaster is ook uit 'n maagd gebore.
Perseus en Herkules is beide uit 'n maagd gebore. Horus, Mithras, Dionysus en Krishna is gebore op 25 Desember. Hul geboortes is deur 'n ster aangekondig, bygewoon deur "wyse manne," almal is gebore in nederige plekke, het die massamoord van onskuldige kinders oorleef en moes vlug vir hul vyande.
Die Roomse verlosser Quirinus is ook uit 'n maagd gebore.
In Tibet is Indra uit 'n maagd gebore en het opgevaar na die hemel na sy dood.
In Indië, is god Krishna gebore uit die maagd Devaki.
Maagdelike geboortes is toegedig aan baie Egiptiese farao's, Griekse keisers en vir Alexander die Grote.
Nie net die idée van 'n maagdelike moeder nie, maar al die ander wonderbaarlike gebeure, soos die wieg in die stal, die ster, die massamoord van kinders, die vlug na Egipte, en die wederopstanding van die liggaam en hemelvaart op die wolke, is nie net geleen nie maar is feitlik net so oorgeneem in die Nuwe Testament.

Die Kruisiging

Hoewel daar baie detail in die literatuur verskyn oor die gekruisigde gode is daar weereens vir Christene die leuen voorgehou dat Jesus die enigste god ooit was wat gekruisig is ter wille van die redding van sy volgelinge. Wat hier volg is 'n lys van gode wat gekruisig is soos Jesus. Krishna van Indië; Tammuz van Mesopotamië 1160 vC; Iao van Nepal 622 vC; Hesus van die Keltiese Druide 834 vC; Quezalcoatl van Mexico 587 vC; Quirinus van Rome 506 vC; Prometheus 547 vC; Thulis van Egipte 1700 vC; Indra van Tibet 725 vC; Alcestos van Euripides 600 vC; Attis van Frygië 1170 vC; Crite van Chaldaea 1200 vC; Bali van Orissa 725 vC; Mithras van Persië 600 vC.

Die Opstanding uit die Dode

In die mitologie van die volkere van die aarde is daar baie gode wat opgestaan het uit die dood. Tog is daar vir Christene weereens 'n leun vertel deurdat Jesus voorgehou is as die enigste god wat die dood oorwin het. Die belangrikste gode is: Tammuz, Osiris, Isis en Horus.

Wie was Jesus?

Jesus was ongetwyfeld 'n unieke en soms radikale leermeester in daardie tyd. Volgens my siening het hy 'n radikale verandering teweeg gebring oor hoe God gesien moet word. In die Ou Testament is God voorgestel as die God wat Sy seën uitspreek en uitdeel teenoor die wat hom gehoorsaam en diegene vervloek wat Hom ongehoorsaam is. Die God van die Nuwe Testament is binne in ons, "Die Vader en ek is Een." Die beeld wat Jesus van God geskep het is, in teenstelling met die Ou Testament, 'n God van liefde. Volgens my opinie het Jesus dit ook duidelik gestel dat hy nie spesiaal is nie aangesien hy sê dat "al hierdie dinge wat ek doen kan julle ook doen, julle sal selfs groter dinge doen as ek." Hoewel baie van sy uitlatings deur die Jesus Seminaar bevraagteken is, het baie van sy leerstellings die toets van die tyd deurstaan en is op spirituele vlak vandag selfs meer relevant as 2000 jaar gelede.
Die idee dat Jesus God is, het nie deur Jesus self ontstaan nie. Hy het nooit op godheid aanspraak gemaak nie. Ook nie om aanbid te word nie. Toe sy dissipels hom vra hoe om te bid, het hy gesê: "So moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemel is" ens. Godheid is 'n menslike toedigsel wat aan hom gegee is tydens die byeenkoms in Nicea onder leiding van Konstantyn en Irenaeus. Jesus was 'n Jood wat sy Joodse volgelinge geleer en onderrig het. Hy was 'n Rabbi (leermeester) vir sy volgelinge. Christus is afgelei van die woord "Cristos" wat aan baie in daardie tyd gegee is as hulle beskou is as 'n man van God en beteken "die gesalfde." Die bewering dat Jesus hier as God geïdentifiseer is onder leiding van die Heilige Gees, is 'n aanname wat totaal in die lug hang en waarvoor daar geen bewyse bestaan nie.
Die boeke van die Nuwe Testament is tussen 50 en 70 jaar na Jesus se dood geskrywe. Weereens het die mense betrokke by die Nicea Konvensie die begrip van Jesus as die Seun van God en sy totale heiligheid by hierdie dokumente bygevoeg wat die mitologiese Jesus-beeld help skep het. Gedurende hierdie tyd (200-400 nC) het die Christelike kerk groter kredietwaardigheid verleen aan hierdie beskouing en het dit gelei tot die ontwikkeling van 'n totale menslike geloofsisteem waardeur die kerk groter beheer oor die massas kon verkry. Gevolglik het bepaalde rituele en dogma baie belangrik geword vir die geloof wat selfs vandag nog baie belangrik is vir die kerk.

Waar staan ek?

Die dogma van die tradisionele kerk waarin ek opgegroei het is, in die lig van die nuutste navorsing, nie meer vir my aanvaarbaar nie. Hierby sluit ek in maagdelike geboorte, die opstanding en die hemelvaart. Ek glo dat Jesus in my lewe opgestaan het en dat ons sy leerstellings moet verkondig. Die bergpredikasie en die beoefening van liefde teenoor my medemens soos Jesus gedoen het, is my lewensfilosofie. Ek probeer om my lewe in te rig volgens hierdie leerstellings van Jesus. Niks wat Jesus ooit gesê het, was nog nie deur die Boedha in die verlede gesê nie. Daar is goeie bewyse daarvoor dat Jesus, in die 18-jaar van sy lewe wat ons in die Bybel niks van lees nie, wel in monnike kloosters in die Ooste vertoef het en geleer is en geleer het.
Daar bestaan geen bewys voor dat die Bybel God se Woord is en deur die inspirasie van die Heilige Gees geskryf is nie. Die Bybel is deur mense geskryf. Daar bestaan vele uitgawes van die Bybel soos die Rooms Katolieke Bybel wat meer boeke bevat. Ander Bybels bevat weer die Apokriewe Boeke ens. Watter van al hierdie Bybels is nou die Woord van God? Die Protestantse Bybel? Indien ja, waarom?
Die konsepte hemel en hel is menslike skeppings wat die kerk gebruik om mense te beheer. Die konsep van die sogenaamde "Hamburger Universe" (die drie-laag universum) van die Bybel is uitgedien. Dis 'n siening van mense wat niks van die kosmos af geweet het nie en het die aarde in die middel, die hemel bo en die hel onder geplaas. Die geskiedenis het reeds bewys hoe die kerk mense beheer en uitgebuit het. Konstantyn het die Christelike geloof aangeneem onder sy ma se invloed en om meer beheer oor die Romeinse ryk te bekom wat gedreig het om te versplinter a.g.v. die baie verskillende godsdienste wat daar beoefen is.
Weereens is Christene vertel van die wrede NERO wat Christene vermoor en verbrand het en as fakkels gebruik is vir sy tuinpartytjies. Aan die ander kant word daar nie 'n woord gerep oor Konstantyn se opvolger Karel die Grote, wat duisende mense gedwing het om die Christelike geloof aan te neem. Hope mense is vermoor en gemartel wat geweier het om hulle te laat doop.
Darwin se evolusie-teorie is lankal nie meer slegs 'n teorie nie, maar wel 'n bewese wetenskaplike feit. God fasiliteer en beheer evolusie. Ek glo dat God die skepper is van die heelal want die orde daarin spreek van Sy (Haar) of liewer God se beheer daaroor. Die aktiwiteite van atome en hul partikels in die onsigbare wêreld van die kwantum fisika, stem ooreen met die aktiwiteite van die hemelliggame wat om hul eie ontelbare sonne wentel. Die ontdekking van fossiele het reeds bewys dat die aarde 250 miljoen jaar oud is en nie slegs 6000 jaar nie.
Die nuutste navorsing in die kwantum fisika dui baie duidelik daarop dat daar bepaalde dimensies bestaan waarvan ons nog nooit tevore geweet het nie. Dimensies waarin spirituele wesens, mens en dier sal voortbestaan na hul dood. Hier op aarde verkies ek om 'n Agnostiese beskouing aan te neem want niemand kan daarop aanspraak maak dat hulle werklik kennis van God het nie.
Die groot vraag wat beantwoord moet word is: Het die evangelies historiese weergawes geleen van vorige Oosterse geskrifte wat reeds eeue voor die Bybel bestaan het, ten einde Jesus te beskryf? My antwoord hierop is ongetwyfeld JA.

Ek het vrede gevind

My de-bekering het vir my groot vrede gebring omdat my soeke na die waarheid nie gegrond was op venynigheid en 'n oorlogsverklaring teen die gelowe van die wêreld nie. My soektog het my rustig gemaak en my gelei tot die wete dat hoewel my biologiese bestaan hier op aarde eindig, ek my lewe in 'n ander dimensie gaan voortsit en dat ek nie meer hoef vas te hou aan 'n geykte onbewese filosofie met die bedreiging van die Hel nie. Nuwe wetenskappe soos die Kwantum Fisika en die Meta Fisika is in ons moderne tye besig om nuwe horisonne te open wat ons wegneem uit die verwysingsraamwerk van oerse primitivisme. Geen God bedreig my meer nie en geen Duiwel met sy vurk en vuur wag meer vir my nie. Soos met alle lewende wesens sal my liggaam "gerecycle" word en spiritueel sien ek uit na die nuwe dimensie waarheen ek op pad is.
Prof. Neels Moolman
Department of Criminology & Criminal Justice
University of Limpopo
neelsmoolman@gmail.com

GETUIENIS 2

No comments:

Post a Comment