Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Thursday, December 15, 2011

DIALOOG...

Die Beiteltjie


N.P. Van Wyk Louw


Ek kry ’n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.

Ek sit ’n klippie op ’n rots:
- mens moet jou vergewis:
’n beitel moet kan klip breek
as hy ’n beitel is –

ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
so skoon soos langs ’n voeg:

toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,

die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe –
só moet ’n beitel slaan
wat beitel is, of hoé?

Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see

en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met ’n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.


  Kieselguhr-kleim

 George Weideman

 Troppe jare terug, in die stil oertyd,
het  die see tot teen Rooilepel gespeel
Vandag haal ek my kieselguhr uit
waar die sand  oor Gariep kom sifkaneel

 
Die swaarkry van die jare wat ons maar van lees
maak plooie aan die kante van my kleim
Maar dié  stuk geskiedenis is lankal gewees
en ek het net oë vir die môres uit my myn

 
Vér oor die duine ry die trokke  vragte
weg na Modderfontein  en Somerset-Wes
Of bly daar soms van die kieselguhr agter,
sodat ek dit self kan sif en meng?

 
Miskien -  dan brou ek snags onbewus 
aan my droom se eie dinamiet;
begin om al singende stukke geskiedenis
uit gister se groeityd los te skiet. 




No comments:

Post a Comment