Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Tuesday, January 3, 2012

GETUIENIS 2

In die eerste plek wil ek Hennie bedank dat ek, via Thinus, prof. Neels Moolman se dokument Ooreenkomste tussen Jesus en Boeddha onder oë kon kry en gevolglik die skakel My de-bekering opgevolg het en, trouens, op hiérdie werf herpubliseer het onder die opskrif GETUIENIS 1 – ek hoop nie Neels gee te veel om nie…

Ek dink Neels Moolman sal as akademikus, wie se vakgebied die strafregspleging is, begryp dat getuienis vir my as regsgeleerde van deurslaggewende belang is en hoe ouer ek word, hoe belangriker en oortuigender lyk dit my word getuienis.
Neels se getuienis is eenvoudig, duidelik en reguit.

Aangesien ek as jongeling en later nooit soortgelyke krisisse as hy beleef het nie, was my be-kering nie so uitgesproke nie en my de-bekering ook nie so duidelik soos syne nie – gevolglik sal my getuienis waarskynlik minder dramaties wees, maar ek dink nie daarom minder belangrik of in teëspraak met syne nie, al gaan ek hier-en-daar van hom verskil.

Nadat ons die kinderbybels (meervoud/fout) vir ons drie seuns deurgelees het, het ek en my (Rooms-Katolieke) vrou aan die begin van 1991 besluit om met huisgodsdiens, ná aandete aan die kombuistafel, uit die grootmensbybel voor te lees.
Aangesien ek en my vrou, as regsgeleerdes, nié oor besondere bybelkennis beskik het nie, maar wél oor beduidende kennis van boeke oor die algemeen, het ons besluit om die Bybel op die normale manier te benader en dit van voor na agter te lees soos ’n mens enige ander boek lees, met die enkele uitsondering: ons het elke aand, vóór die skriflesing, God gevra om Sy Woord vir ons te open en te verklaar.

Ons het ons boekevatritueel vir die volgende meer as drie jaar getrou volgehou tot op Vrydagaand, 18 September 1994, toe ek iets in die boek NÚMERI raakgelees het wat my genoop het om dit verder te ondersoek.
Ek het eers later besef dat hier sprake is van ’n sogenaamde kantelmoment en ’n goddelike ingreep, maar waarom sal God sy eie Woord dan ongeloofwaardig maak?

Ons het die ritueel in stand gehou tot ons by JEREMIA 41: 1 – 8 gekom het, wat die laaste perikoop in die Bybel was wat ons op dié manier gelees het.
Die volgende boek wat ons ’n jaar later op dié rituele manier begin lees het – miskien as reaksie? – was die Nederlandse vertaling van Friedrich Nietzsche se boek  Aldus sprak Zarathoestra     Een boek voor allen en voor niemand

Aangesien skuld – in die vorm van opset of nalatigheid – nóg so ’n sine qua non vir die regsgeleerde is, sal Neels verstaan dat ons met hom saamstem wanneer hy “…dink dat die Godsdiensleiers die grootste misdadigers is omdat hulle die mense mislei met die oog daarop om hulle te kan manipuleer met verskeie doelwitte in gedagte.” Ons is egter van mening dat dié opset net bestaan by sogenaamde internasionale godsdiensleiers en nie by die 
plaas-like Afrikaner kerkleiers nie, wat hoogstens nalatigheid ten laste gelê kan word ... indien selfs dit.
Hulle het gewoon nie beter geweet nie en in die lig van die universaliteitstrewe van die Christendom, sou hulle moeilik kon ontsnap aan die bedreiging en indoktrinasie van die boelies op die speelterrein – presies dieselfde as wat ons vandag sien op die sogenaamde internasionale demokratiese politieke terrein.

Ons stem ook saam met Neels se onderskrywing van die “Christelike” moraal sowel as sy stelling dat “Die konsepte hemel en hel is menslike skeppings wat die kerk gebruik om mense te beheer”, maar ons beskou laasgenoemde as omtrent die enigste deug van die kerk aangesien die mensdom daarsónder nog méér sou verwórd en verwílder het.

Ons deel egter nié Neels se geloof in die sogenaamde natuurwetenskap nie, aangesien Darwin se kompas ook maar geyk is in en deur ’n samelewing wat al minstens tweeduisend jaar gelede ’n foutiewe peiling geneem het en gevolglik ’n verkeerde koers ingeslaan het wat net vererger het sedert die sogenaamde verligting.

Só dui álle getuienis van die natuurwetenskaplikes daarop dat – behoudens die planeet Aarde – daar géén ander lewe in dié universum bestaan soos wat ons dit hier ken nie, maar hulle hou vol om daarna te soek en te glo dat die middelpunt iewers anders geleë is.
Aanvaar vir één oomblik (ogenblik) dat die Aarde die enigste lewe in dié universum verteenwoordig en besef hoe besonders dít is!

Miskien verteenwoordig die Aarde dié Ark waarvan die Noaglike en al die ander arke maar net ’n floue afskynsel is.

Miskien is die Aarde die ultieme ruimtetuig waarmee iets/iemand probeer (het) om lewe in dié universum te red, maar het dié-gene wat dit in die res van dié universum vernietig het, óók stilletjies en skelmpies aan boord gegaan en wil van die aarde dieselfde onvrugbare woesteny maak as al die ander miljarde lewelose hemelliggame/hemellyke.

Miskien moet ons wéér méér fokus op ons sélf, ons vólk en óns God – ons stamgod – wat moontlik op ’n verkeerde stam geënt is, maar waaraan ons Afrikaners ’n eíe inhoud en betekenis gegee het en minder op… Mammon.   

No comments:

Post a Comment