Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Monday, August 12, 2013

VERSKOMBERS VAN DIE HARTLAND

Om te groet

ek het toe maar saggies in die laatnag weggegaan
onderdeur die seringboom en sekelmaan
met net stertswaaiende witvoete wat oorbluf hulle warm snoete teen my 
kaal bene aansnuf oor die onverwagse vriend wat hulle ook dan net so 
skielik weer teleurstel wanneer hy die hek onder by die gronddam met die 
watermeid optel en toedruk in hulle gesigte vol verwyt

pad af vêr,
weg verby die stille windpomp en krale 
deur die kronkels en maanskaduwees van dorings, driwwe, riete en telefoonpale
verby hooimied en bossiegeure,
beesmis en verlate bokgeblêr   

toe, by die laaste hoogte, met die laaste motorhek, het die dag skoon gebreek
finaal oor Afrika
terwyl die koppies warm rinkel en die houtstoof vlam in die plaaskombuis
die melkemmers tinkel en die sifdeur klap-klap
raak die grondpad oor my skouer die enigste naelstring
met die huis    

en toe het die koffiemoffie ons laat opsit uit die newels
kammakastig koffie kammakastig vrolik en vars
gordel vas
ons gaan nou-nou land in engels, spaans en frans

net daar het dit donker beginne reent
vir altyd en gans
terwyl die son nou nog helder skyn
oor Straatdrift
se rivier en krans  

© kopiereg voorbehou


Noorsveld

koerkom kerkei karsie
karoobos kanniedood en krie
ryg die noorsveldname op 'n pendoring
en smul aan 'n wulpse kroo-klank woordsosatie
kattendoring naboom noem-noem
boerboon bloubos tulp
motorvenster vaalveld is eintlik loopveld weiveld proeveld
wilgerboom en populierbos skelmrook en vryveld
ja jy my wildepruim vingerpol aalwyn hotnosvy
gwarriebos garing ganna spek
ek soen jou sommer oorlams laag in jou nek
want witgat klapper turksvy klits
willetwak selfs honnepis en brak
roer soos muskus diep in my hart

© kopiereg voorbehou


Sola Gratia

(ter nagedagtenis aan Prof. Willie Jonker)

het ons nie maar almal al gedwaal
soos op ‘n tweespoorpad iewers in die Wes-Transvaal?

jy dink jy ken die land se lê nog goed en kan vêr kyk
om onverwags te ontdek jou pad het toe verkeerd uitgewyk

dan is daar skielik diepe nood
maar God sy dank, die genade bly altyd groot

want het bloed van zijn zoon
reinigt ons van al onze zonden schoon

© kopiereg voorbehou

[Christiaan Potgieter]


No comments:

Post a Comment