Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Thursday, January 20, 2011

NOORSVELD- EN ANDER GEDAGTES 1

MY LIEWE NEEF, NIGGIE
 
Aangesien my skooltyd heelwat ter sprake kom, stuur ek dié gedagtes nie net aan julle nie en boekstaaf ek dit in paaiemente...
 
My besoek aan die Vaderland gedurende Meimaand verlede jaar, was nie net 'n feitesending nie, maar 'n eksistensiële ervaring - van die dou-voor-dag uitstappies in die droë rivierloop saam met Miss Molly, die Skotse tefie, tot die Meer- intieme kennismaking met Mev. -Kat!
 
Saam met eersgenoemde kon ek vasstel dat 'n ekologiese verandering hom binne die bestek van óns geslag in die Noorsveld voltrek het, naamlik dat die willetwaksbome verdwyn het - daardie pioniersplante met die wetenskaplike naam Nicotiana glauca .
Kan julle nog onthou hoe ons dit op groot skaal afgebreek het wanneer ons as kinders saam met my oorlede Pa gaan stap het en dan letterlik stokperdjies daarvan gemaak het? Hoe ons dan willetwaksboom-tussen-die-bene in die grondpad afgehol het dat die stof so staan; en die plaashonne wat jou in hul opgewondenheid pootjie dat jy jou knieë nerf-af val en volronde, donker bloeddruppels strepe oor jou stowwerige maermerries trek, net om gulsig deur die einste honne afgelek te word want destyds was Dettol en 'n hond se lek die beste ontsmetting vir 'n seerplek.
 
Nou ja, van dié willetwaksbome was daar nie meer 'n enkele een te bespeur nie en ek wonder natuurlik of ons kinderlike verwoestingsdrif nie bygedra het tot 'n kleiner biodiversiteit nie...
Nie dat dit juis saak maak nie, want die willetwaksbome was in elk geval uitheemse plante.
 
Groete
 
Petrus

2 comments:

  1. Was ek kleintyd met my eerste aanskoue van 'n mierleeu nie terleurgesteld met die voorkoms daarvan nie . . .

    ReplyDelete
  2. Oculus, miskien omdat jy toe nog nie hierdie YouTubefilmpie kon kyk nie: http://www.youtube.com/watch?v=CWkfAyfBDHE

    ReplyDelete