Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Friday, June 7, 2013

DIE FEITE VAN DIE SAAK

Die mite van Soweto, 1976

Soweto 1976, word voorgehou as 'n opstand teen Afrikaans.
Dit was egter die uitkristallisasie van 'n lang proses waarin belangrike feite van wat op 16 Junie 1976 in Soweto gebeur het, sistematies uit die openbare geheue uitgewis is, terwyl 'n kragtige mite op die asse daarvan staangemaak is: dié van 'n heroïese opstand teen 'n taal wat deur 'n hardkoppige owerheid in onwillige kele afgedruk is.
Wat was die feite in verband met taal in die onderwys rondom 16 Junie 1976 in Soweto?
Baie weergawes van die gebeurtenisse van dié dag is in die loop van die tyd gegee of gekonstrueer. 'n Bepaalde weergawe daarvan word jaarliks by die graf van Hector Petersen, die eerste ongeval van die betogings, aangebied.
Die betroubaarste inligtingsbron hieroor is egter die nougesette en omvattende amptelike Verslag van die Kommissie van Ondersoek na die onluste in Soweto en elders (1979) deur regter P.M. Cillié. 'n Ondersoek wat die kommissaris dus drie jaar besig gehou het.
Soweto 1976 het nie onverhoeds uit die lug geval nie. Dit het 'n lang aanloop gehad.
Dit het in die vroeë 1950's begin met die oorname deur die Sentrale Regering van swart onderwys in provinsiale skole en 'n verskeidenheid kerklike strukture. Die doel was om eenvormigheid in swart onderwys tot stand te bring, onder meer wat onderrigmedium betref. Dit is Bantoe-onderwys genoem, in ooreenstemming met die internasionale gebruik deur taalkundiges van die term Bantoe as versamelnaam van die Sub-Sahara Afrikatale.
Na deeglike ondersoek deur die Departement van Onderwys en buitekundiges is 'n beleid saamgestel. In die laerskool (dit wil sê tot en met graad 8) sou leerders slegs in hul moedertaal onderrig word. In die hoërskool (grade 9 - 13) moes die moedertaal nog steeds gebruik word, en wel vir nie-eksamenvakke en vir die taal as vak. Vir eksamenvakke in die hoërskool moes Afrikaans en Engels so ver moontlik gelykop gebruik word.
Dit was 'n voor die hand liggende en rasionele besluit. Afrikaans en Engels was op dié tydstip die twee amptelike tale van die land. Studie deur middel van die twee tale sou die skolier voorberei vir die werksomgewing, een wat oorwegend Afrikaans en Engels was. Met taal sou afgestudeerdes dus hul brood kon verdien. Die potensialiteit van so 'n besluit het reeds heelwat vroeër in die geval van blanke skole geblyk. Anders as die Engelssprekendes, het die Afrikaners erns gemaak met tweetaligheid. Omdat hulle die mees tweetalige mense was, het een van die belangrikste werksektore in die land as't ware in hul skoot geval: die staatsdiens.
Daar was groeipyne met die implementering van die beleid, wat normaal is in die geval van grootskaalse onderwyshervorming. Die huidige probleme met die infasering van uitkomsgebaseerde onderwys is 'n tipiese illustrasie daarvan.
Die groeipyne was veral die gevolg van 'n paar oorsigte in die beplanningsfase. Daar was bv. vir sekere vakke wat aan Afrikaans toegewys is, nie handboeke voorhande nie. Ook was daar in baie skole nie genoeg onderwysers wat in staat was om die vakke wat aan Afrikaans toegewys is, te onderrig nie.
Vir sulke gevalle moes daar aansoek gedoen word om vrystelling van die verpligte gebruik van Afrikaans binne die vyftig-vyftig-raamwerk.
Die beleid van en benadering tot die verlening van vrystelling is van tyd tot tyd in omsendbriewe deur die Onderwysdepartement verduidelik. Omdat die verwagting, veral van die kant van die departement, was dat die geïdentifiseerde leemtes in die loop van die tyd uitgewis sou wees, is daar reeds vanaf 1959, ses jaar na die oorname van die skole, gewaarsku dat vrystellings nie meer so geredelik as voorheen verleen sou word nie. Alleen die onvermoë van 'n onderwyser om die taal te gebruik, sou vir vrystelling kwalifiseer, dus bv. nie die taal-onvermoë van die skolier nie, 'n faktor wat dikwels as motivering vir aansoeke om vrystelling gebruik is.
Wesenlik was daar niks vreemds aan laasgenoemde beperking nie. Dis normaal om 'n taal wat jy nie ken nie, deur middel van die studie daarvan as vak te bemagtig. Hier verskaf die huidige praktyk as't ware 'n aweregse perspektief op die Departement se beperking. In baie swart skole word kinders met 'n Afrikataal as moedertaal vanaf die vroegste stadium aan Engels as vak blootgestel, en boonop as medium van onderrig van alle vakke, laasgenoemde met sy bekende duur skade in die vorm van druiping, uitval en swak beheersing van nie net Engels nie, maar selfs van die moedertaal.
In 1972 is besluit om die onderwysstelsel vanaf 1975 te omskep van 'n dertienjarige na 'n twaalfjarige: ses jaar elk in die laer- en hoërskool. Sekere bepalings van die heersende stelsel sou onveranderd bly, soos dat in die laerskool die huistaal die medium van onderrig sal wees en in die hoërskool die medium vir nie-eksamenvakke, terwyl in die hoërskool eksamenvakke op 'n gelyke basis deur medium van Engels en Afrikaans aangebied sal word. Met die oog op indiensneming na skool sou die omgewing waarin 'n skool gevestig is, sy taalmedium bepaal: óf Engels, óf Afrikaans, óf Engels én Afrikaans op 'n vyftig-vyftig-grondslag.
Om voor te berei vir die oorskakeling is 'n omsendbrief in 1973 aan 'n wye kader van belanghebbendes gestuur. Dit het enersyds die Departement se beleid met betrekking tot onderrigtale uiteengesit, en andersyds kommentaar daarop van skoolrade gevra. Die Sekretaris van die Departement sou die finale besluit hê.
Die rade is gevra om in hul kommentaar 'n reeks faktore in ag te neem, soos eenvormigheid tussen voeder- en ontvangerskole, die onderrigmedium van ander skole in dieselfde omgewing, die wenslikheid al dan nie van enkelmediumskole, en of die onvermoë van onderwysers om in 'n bepaalde taal te doseer, deurslaggewend behoort te wees.
Ten spyte van 'n uitdruklike stelling in die omsendbrief dat die finale besluit by die Sekretaris van Onderwys berus, het die blyke van groter konsultasie van die kant van die Departement by sommiges die indruk gewek dat skoolrade nou vryelik sou kon besluit oor die onderrigmedium van hul skole.
Na aanleiding van die resultate van die opname is die Minister se besluit in 1974 per omsendbrief aan belanghebbendes oorgedra: dat die status quo met betrekking tot die gelyke gebruik van Engels en Afrikaans waar moontlik op sekondêre vlak gehandhaaf moes word en dat departementele goedkeuring vir enige afwyking van die besluit nodig is. Goedkeuring sou hoofsaaklik afhang van die beskikbaarheid al dan nie van bevoegde onderwysers om onderrig in die betrokke taal te gee.
Die woorde waar moontlik in die minister se antwoord het net in die Afrikaanse teks van die omsendbrief voorgekom. Dit het ruimte gelaat vir misverstand by diegene wat slegs die Engelse teks gelees het.
Die weglating van die twee woorde was 'n administratiewe fout met verreikende gevolge.
In 'n latere omsendbrief is die besluit van 'n Transvaalse inspekteurskonferensie oor die oorskakeling na die twaalf-jaar-skoolprogram bekend gemaak. Die konferensie het besluit dat eenvormigheid in belang van die onderwys en skoliere is. Die onderrigtaal vir eksamenvakke sou op die vyftig-vyftig-lees geskoei wees. Verder is aanbeveel dat Rekenkunde en Maatskaplike studies die twee vakke vir onderrig in Afrikaans sal wees.
Die omsendbrief het egter geen melding gemaak van die vroeëre prosedure met betrekking tot aansoeke om vrystelling van die reël in bepaalde gevalle nie, terwyl die woorde "waar moontlik" in die vorige omsendbrief nie herhaal is nie.
Vir die leser sonder die agtergrond van al die vorige omsendbriewe kon dit net beteken: 'n vyftig-vyftig-beleid, en basta! Getuies voor die latere Cillié-kommissie het getuig dat hulle verstaan het dat van 'n streng vyftig-vyftig-beginsel afgesien is, maar dat Afrikaans tog nog in hul kele afgedruk word. Hulle is in dié afleiding gesterk deurdat aansoeke om vrystelling toenemend afgekeur is.
Skoolrade het hul teenkanting insgelyks toenemend laat hoor. Op 'n vergadering van 91 afgevaardiges van skoolrade in Desember 1974 aan die Oos-Rand is met teleurstelling verneem van die getal afgekeurde aansoeke. Die persepsie van 'n hardvogtiger toepassing van taalbeleid is daardeur versterk. Dit het aanleiding gegee tot 'n uitlating van 'n afgevaardigde dat daar meer militant opgetree moet word en dat 'n skoolboikot oorweeg moet word. Dié uitlating het wye rugbaarheid gekry deur die publikasie daarvan in die Rand Daily Mail.
Vir sover volwassenes nie alreeds betrokke was by die monstering van die skooljeug nie - die uitlating van die aangehaalde afgevaardigde dui daarop - het die Mail-berig swartmagorganisasies hulle ore laat spits. Waar vroeëre agitasies teen kernaspekte van die apartheidsbeleid deur volwassenes beplan en gelei is maar misluk het, soos in die geval van Sharpeville in 1960 wat die pasboekstelsel as teiken gehad het, het 'n nuwe moontlikheid en 'n nuwe teiken hulle voorgedoen: 'n agitasie deur die jeug, en wel deur skoolkinders oor 'n saak waarvan hulle kennis gehad het: Bantoe-onderwys, met sy klem op moedertaal en meertaligheid.
Die lang gekibbel oor die skoolbeleid het 'n plofbare mengsel laat ontstaan. Wat kortgekom het, was 'n vonk. Afrikaans is gesien as 'n handige vonk - dié taal het immers meermale in die imperialistiese verlede 'n wettige slaansak geblyk te wees.
Die res is geskiedenis
'n Deel van dié geskiedenis is die jaarlikse funksie by die graf van Hector Petersen. By dié geleentheid word wesensbelangrike feite verswyg. Dat taal, en spesifiek Afrikaans, nie die primêre belang was wat met die agitasie gedien moes word nie, maar iets omvattenders, naamlik Bantoe-onderwys, word op indirekte manier bevestig deur die feit dat van die sewe agiterende Soweto-skole op 16 Junie 1976 ses Engelsmediumskole was, terwyl by die sewende slegs 'n enkele vak in Afrikaans aangebied is.
Die oorwig van feite is dat Afrikaans nie die aanleidende oorsaak van Soweto 16 Junie 1976 was nie, maar die sondebok daarvan gemaak is.
Prof F.I.J. van Rensburg was professor in Afrikaans aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit. Dié stuk het op 6 Junie 2005 in die Vrye Afrikaan verskyn.

No comments:

Post a Comment