Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Wednesday, August 27, 2014

HUWELIKS/REIS/VERSLAG III

"Assosiasie" is virtueel 'n virus wat in 'n klein hoekie skuil en jou onverhoeds pootjie wanneer jy toevallig daar verbykom, neem nou die volgende voorbeeld - toe ek vir die vorige aflewering net weer die skakels toets, vang 'n naam vér ondertoe op die kokle-skakel skrams my oog: 

References[edit]

  1. Jump up^ Simon Broughton (1994). World music: the rough guide. Rough Guides. ISBN 978-1-85828-017-2. Retrieved 14 June 2012.

...en verwys my eensklaps terug na Oom Willie se pad. 

Dit was "ná werk" toe ons al om die kliptafel in die lapa gesit het met 'n bier in die regtervuis wat ons die ontploffing naby gehoor en in ons bene voel dreun het en sekondes later die Hollandse seiner, skreeuend:"Die kaptein se Buffel het 'n myn getrap!"

Ons is holderstebolder op 'n "eerstegeslag" Bosvark


 (sonder V-vormige pantserstaal mynafweerontwerp) en na 'n dolle jaagtog van enkele kilometer stop ons op 'n veilige afstand van die slagtingstoneel af en sien enkele wit gedaantes om die Buffelwrak ronddwaal - kaptein Meier het liters & liters wit verf vir "basisverfraaiing" saamgebring.

'n Onder-korporaal se voet is ongeveer 'n duim onder die boonste stewelrand, soos met 'n guillotine afgesny, maar daar kom nie 'n druppel bloed uit nie; die Soutie dokter (wie se naam intussen aan Alzheimer's geoffer is, maar wat ek dink van Grahamstad af gekom het), het later op navraag verduidelik dat die gebrek aan bloed te danke is aan 'n oorlewingskokreaksie van die liggaam waardeur die bloeddruk verlaag en die are toeslaan... 
Die onder-korporaal, wat die voorval oorleef het, se naam is Peter Broughton. 

Op die troudag (Saterdag, 16 Augustus 2014) het ons teen ongeveer 10h00 na Limbaži vertrek en ons tyd by die plaaslike museum en oorblyfsels van die Aartsbiskoplike kasteel verwyl terwyl die bruidsgeselskap op pad was van Riga af.
Martin moes intussen ook The Beast neem om versier te word met, onder andere, 'n groot ruiker blomme op die enjinkap:

Die onderskeie familiegroepe het mekaar later op die binneplein van die stadhuis ontmoet waarna almal na binne is vir die amptelike huwelikseremonie (waarvan ek nog nie foto's het nie):




Roman, Maija se pa, was háár getuie en Ingrid insgelyks vir Martin.

Na 'n kort en sobere huweliksbevestiging in Lets, met 'n oorvloed aan blomme en roosblare (in plaas van konfetti), het die fotonemery in die stadhuis langer geduur as die plegtigheid en is daarna by die kasteel-ruïne voortgesit:




Ná die fotosessie het ons vir die eerste eiesoortige ritueel na 'n "plaasmuseum" vertrek, waar beide die nuwe egpaar en hulle gaste ingewy moes word in die doel & gebruik van sommige van die onbeperkte aantal tipiese plaas- en ander werktuie - een daarvan was 'n Letse weergawe van 'n didgeridoo...

 ...en toe niemand anders die uitdaging wou aanvaar om dit te bespeel nie, kon ek natuurlik nie wag nie en het weergalose klanke daarmee opgetower wat, skandelik, deur niemand digitaal verewig is nie.

Die volgende "instrument" was 'n kort stukkie beeshoring van ongeveer 10 cm, wat nie regtig "bespeel" kon word nie, aangesien dit doodgewoon 'n ouderwetse worsstopper was.
Daarop het 'n soortgelyke, maar langer, beeshoring aan die beurt gekom en Ingrid het haar bedenkinge stilletjies teenoor my uitgespreek, maar ek was nie links toe die boer weer 'n vrywilliger soek nie en blaas die beuel dat die kranse antwoord gee - tot groot verbasing van die uitdagende boer, want, toe verduidelik hy, dit was eintlik 'n piepietregter vir vroue in vervloë dae.

[word vervolg]






No comments:

Post a Comment