Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Wednesday, October 16, 2013

OPE BRIEF

Liewe Volksgenote

Miskien onthou julle dit nog, of miskien wil julle dit vergeet (kliek op die klein pyltjie naastenby in die middel, regs, vir 'n Vlaamse monstertjie van 'n Afrikaanse lied wat oorspronklik hiervandaan kom:  http://www.youtube.com/watch?v=76wPvNpIjSs), maar op skool en op universiteit het ons (A)CSV-kringe gehad waar ons bybelstudie gedoen het. As die Thysheimers my nie parte speel nie, het ons op skool nog bybelstudiehulp van die leiding ontvang, maar op universiteit is ons aan ons eie kundigheid & kreatiwiteit oorgelaat.

Uiteindelik, in my eie gesin, getroud met 'n (ongelowige) Rooms Katolieke Vlaming, het ons besluit om die goeie ou Afrikanertradisies en -gebruike voort te sit en nadat ons enkele kinderbybels al 'n paar keer vir ons drie seuns voorgelees het, het ons besluit om formeel, saans huisgodsdiens aan die kombuistafel te hou: ek het die boekevat elke aand met dieselfde gebed geopen, te wete met die smeekbede dat God "Sy Woord" vir ons moes open & verklaar...niks meer nie & niks minder nie, al het ons op daardie stadium baie swaar gekry.

Aan die begin van ons tweehonderd-sewe-en-negentigste lesing op 18 September 1994 lees ek toe iets wat my aanspoor om dit 'n bietjie verder na te gaan en hoe méér navorsing ek doen, hoe méér kom ek agter dat die godsdiens waarin ek só hard glo, niks anders as 'n kaartehuis is nie, wat in die volgende, nog  meer as tweeduisend-tweehonderd-en-vyftig lesings, in vertraagde aksie rondom my in duie sou stort.

Vandag sou ek natuurlik nog steeds ontsettend graag wil weet wie die God is wat my gebed op dié ongelooflike manier verhoor het, want ek het in alle opregtheid gebid tot die God uit wie se "Woord" ons gelees het. 
Indien dit Hý is, waarom sal Hy sy eie "Woord" ondermyn en ongeloofwaardig maak? (...maar dan bestaan hy natuurlik ook...)
Indien dit nié Hy is nie, wie dan?
...en waarom?

Wat ek wél weet, is dat die skille sedertdien van my oë geval het en ek die werklikheid kan waarneem soos dit waarlik ís en nie soos daar gesê word dat dit is nie...en daarvoor dank ek die Here (by wyse van spreke;-)

Met Volksliefde

Petrus

No comments:

Post a Comment