Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Sunday, April 29, 2012

...VAN MENS TOT 'N ANDER DIMENSIE

Ek en Esther en Pierre en Thys en Kiem was saam in die Laerskool Newton.
Ek dink Esther en Kiem was al van sub. A af saam en ek het in sub. B bygekom en Pierre in st. 3 toe sy Ma ons juffrou was en ek kan nie mooi onthou of Thys in st. 4 of 5 by ons aangesluit het nie en ons almal het toe in 1967 in st. 6D by die Hoërskool Pearson beland.


Wyle Kiem, wat op 17 Junie 2004 die voortou geneem het, het hom al van kleins-af besig gehou met dinge wat nie heeltemal vanselfsprekend was nie, soos, trouens, 'n voorvader van hom, te wete Hans (Dons) de Lange.


Kiem het tóé al 'n besondere belangstelling in Siener van Rensburg en sy profesieë gehad en toe ons in Pearson was, het ons die Port Elizabethse stadsbiblioteek, agter die ou Klipvrou (Victoria), ontdek en baie ure in dié Ali Babasgrot geslyt.


Kiem het gepromoveer tot die Teosofie en karakters soos Madame Blavatsky en ek het met tanende belangstelling toegekyk, want my voete was te stewig in die klei van ons alledaagse, Calvinisties-Protestantse godsdiens geplant, waar daar nie plek was vir allerlei uitheemse goed nie.


In ons klas by Pearson was Rugby onteenseglik die onderskeidende faktor: seuns wat rugby gespeel het, was lid van die SHH (sê maar machos) en die ander was lid van die GRA (sê maar nerds).


Wyle Kiem was ongetwyfeld lid van die GRA en wyle Thys uitgesproke lid van die SHH en ek weet dat daar nie 'n besondere hegte band tussen hulle bestaan het nie, want synde die jonger broer van die eerste rugbyspankaptein, kon ek nie anders as om rugby te speel nie, weliswaar vir die vierde span en gevolglik was ek 'n soort oorgangsfiguur tussen die SHH en die GRA.


Ons moenie die lewe en die dood op sig aanvaar nie - daar bestaan baie meer ondergrondse en onsigbare verbindinge en netwerke as wat ons besef: só, byvoorbeeld, gaan wyle Thys se begrafnis op 2 Mei plaasvind, die dag waarop Kiem 58 sou word en hierdie groep het op 3 Mei 2009 begin.


Ek is seker dat Kiem, met al sy kennis en ondervinding van hul nuwe dimensie, Thys daar goed touwys sal maak en wanneer Thys hierdie woorde ongemerk oor ons skouer lees: wens ou Kiem gerus namens my geluk met sy verjaarsdag in die vorige dimensie...


Met liefde vir die vér familie


Petrus

No comments:

Post a Comment