Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Thursday, November 7, 2013

KOMMENTAAR IN 'N ANDER FORUM

"Capitalism is a lie perpetuated by those who think they are smart enough to outrun the long arm of the "law". Everything I believed in is decomposing at my feet...we've been had, children - we've been truly snookered! A few years ago The World Bank staffer John Nellis commented: A joke on the streets of Moscow these days: “Everything the Communists told us about communism was a complete and utter lie. Unfortunately, everything the Communists told us about capitalism turned out to be true."

Wednesday, November 6, 2013

(DIGTERLIKE) DIALOOG

‘n Sedeles vir my kind.

(Vandeesweek is 20 Boeremaglede vonisse van tussen 5 en 35 jaar vir hoogverraad in Pretoria opgelê. Dit was ‘n marathon 10-jaar lange hofsaak. Baie duur. Hoewel baie Afrikaners ontevrede is met hulle lot, het min werklik simpatie met die Boeremagsaak getoon. Dis eerder tragies as enige iets anders)

Kom, neem my arm en stap hier langs my
deur die wêreldpolitiek se heldegalery.
Trek sommer enige aantal name uit ‘n hoed,
gaan staan voor hul elkeen en bekyk hulle goed.
Neem ’n Farao of dalk Moses, die ou grote Alexander,
ons eie De la Rey, Churchill, Mandela, of enige ander.

En kyk maar weer goed.
Sien jy al die donker bloed?
Party is roekeloos en jonk,
jags, stapelgek of dronk;
ander is sober en ouer, onverskrokke op hul plek,
maar onverbiddelik wreed, ook, al is hul dalk so korrek.

Dít is die storie,
of dit nou gaan oor vryheid of dalk net glorie:
Daar loop altyd ‘n streep in die sand,
en jy moet kies waar jy staan, aan welke kant.
Daar is ook altyd ‘n prys om te betaal,
iewers word dit noodwendig gehaal.

Gaan jy buk en bely? Stilbly?
Gaan jy die skei breek en stry?
Gaan jy vlug, gaan jy volg, of dalk self die rebellie lei?
In jou keuses sal jy altyd moet onderskei,
tussen baie bybelklanke en brandewyndampe
en probeer kyk na die saak van vele kante.

Tussen amper goed en amper sleg;
tussen amper verkeerd en amper reg.
Wees altyd bedag en omsigtig,
maar nooit net vir eiegewin, ook nie oorversigtig!
Raak net in God rustig.
Onderskei tussen slegte vriend en goeie vyand.
Moet nooit ‘n saak aflag nie, vir niemand,
maar neem in geloof die natuurlike reg in jou hand.

En as jy dan ook móét lei,
doen dit tog maar eerder,
soos De la Rey!

Allerheiligeaand
31 Oktober 2013


[Christiaan Potgieter]


intens verdiep,
soos net kinners kán,
groei ons sorgeloos en ongestoord
onder uitgestrekte vlerke
van lewensoue silwereike,
peper en sering:
skraap paaie,
bou damme en krale
-aan ons bloed getrou-
in die hartjie van 'n Bose stad.
ander, vriende of familie,
wat die reëls nie ken
of argeloos oortree,
word doelbewus vermy
en onwrikbaar uitgesluit
terwyl ons soos seisoene
in 'n sirkel ewig kom en gaan 
die divine lila net meer en meer bemeester
tot geen twyfel meer bestaan


Thursday, October 17, 2013

WYLE PA IS NIE ONTEVREDE NIE

Quo vadis?

Romam vado iterum crucifigi.*

Dan klim jy maar bang die trappies op

van  eeue oue kansels op

plekke soos Zastron, Bethulie, Reddersburg en in die Tweetoring

en jy slaan jou oë op,

jou neus vang die reuk van Vrystaat se son

in die rooi mat se stof op

en jy hoor dalk behalwe die klok se slaan ook balke wat kraak

soos in die Weskerk met rebelle in die dak op

en die Kanselbybel se leer ruik na toom en saals met bittereinders op

en baie leë banke vertel van burgers lank weg

met veggeneraals en presidente wat jaag in die veld met hoede op

onder die sterrehemel soos die ferweel van die kanselkleed met

God is Liefde op

en ruik na brasso en byewas en die

water in die kraffie met die doilie op

proe na brak en buskruit

en in jou ore vermeng die orreltone, die konsentrasiekamp geween op

met O Boereplaas, De la Rey, Prijs den Heer en Heft, Burgers,

‘t lied der vrijheid aan...het oog op

God gerig.

16 Oktober 2013

* Volgens oorlewering het Paulus uit Rome gevlug, toe verskyn Christus aan hom. Hy vra toe aan Hom: “Waar gaan U heen?”  Hy antwoord toe: “Na Rome om weer gekruisig te word.” Paulus het toe daar omgedraai.

[Christiaan  Potgieter]

Wednesday, October 16, 2013

OPE BRIEF

Liewe Volksgenote

Miskien onthou julle dit nog, of miskien wil julle dit vergeet (kliek op die klein pyltjie naastenby in die middel, regs, vir 'n Vlaamse monstertjie van 'n Afrikaanse lied wat oorspronklik hiervandaan kom:  http://www.youtube.com/watch?v=76wPvNpIjSs), maar op skool en op universiteit het ons (A)CSV-kringe gehad waar ons bybelstudie gedoen het. As die Thysheimers my nie parte speel nie, het ons op skool nog bybelstudiehulp van die leiding ontvang, maar op universiteit is ons aan ons eie kundigheid & kreatiwiteit oorgelaat.

Uiteindelik, in my eie gesin, getroud met 'n (ongelowige) Rooms Katolieke Vlaming, het ons besluit om die goeie ou Afrikanertradisies en -gebruike voort te sit en nadat ons enkele kinderbybels al 'n paar keer vir ons drie seuns voorgelees het, het ons besluit om formeel, saans huisgodsdiens aan die kombuistafel te hou: ek het die boekevat elke aand met dieselfde gebed geopen, te wete met die smeekbede dat God "Sy Woord" vir ons moes open & verklaar...niks meer nie & niks minder nie, al het ons op daardie stadium baie swaar gekry.

Aan die begin van ons tweehonderd-sewe-en-negentigste lesing op 18 September 1994 lees ek toe iets wat my aanspoor om dit 'n bietjie verder na te gaan en hoe méér navorsing ek doen, hoe méér kom ek agter dat die godsdiens waarin ek só hard glo, niks anders as 'n kaartehuis is nie, wat in die volgende, nog  meer as tweeduisend-tweehonderd-en-vyftig lesings, in vertraagde aksie rondom my in duie sou stort.

Vandag sou ek natuurlik nog steeds ontsettend graag wil weet wie die God is wat my gebed op dié ongelooflike manier verhoor het, want ek het in alle opregtheid gebid tot die God uit wie se "Woord" ons gelees het. 
Indien dit Hý is, waarom sal Hy sy eie "Woord" ondermyn en ongeloofwaardig maak? (...maar dan bestaan hy natuurlik ook...)
Indien dit nié Hy is nie, wie dan?
...en waarom?

Wat ek wél weet, is dat die skille sedertdien van my oë geval het en ek die werklikheid kan waarneem soos dit waarlik ís en nie soos daar gesê word dat dit is nie...en daarvoor dank ek die Here (by wyse van spreke;-)

Met Volksliefde

Petrus