Volkstaal – veelgesprek
Daar is die woorde wat hul vir ons gee,
in tale wat geen oordeel vel, wat kalm
in windstil baaie baaiers vry laat talm
as hulle in die laaste branders tree.
Of elders swelg en spoeg dié wêreldseë
ervare skeepslui uit in grys geraas
en word wie sy vertroue in hul plaas
in 'n enorme vloedgolf weggevee.
Daar is die woorde wat soos nuwe weë
'n toekoms baan wat niemand teë kan hou.
En ons wat nou nog aan die leegte klou
loop môre in die stof en volg gedwee.
Van dwaal voel ons dan net die lekker wee
en weet: die teerpad het ons ingehaal,
ons koers het iemand namens ons bepaal
en leegte is 'n plekkie vir die vee.
Daar is die woorde wat die moeder skree,
wat onbesoedel en onstuimig stroom
uit helder bronne: tonge wat hul skroom
verloor al is ons self oor hul verleë.
Want nutteloos is weerstand teen dié weë,
ontkenning van gevoel se drang na lig
en kinderoffers vir 'n vergesig.
Iets in ons spreek die klanke om ons teë.
Daar is die woorde wat ons self moet smee
uit ertse lank voor ons gedelf en in
die smeltkroes van ons erfenis tot sin
gestaal: in dié taal is 'n land geleë
ons hulle bo die aambeeld hoog laat sing
en diep tot in die toekoms deur laat dring
vat ons weer daarheen om ons terug te gee.
No comments:
Post a Comment