Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Tuesday, April 2, 2019

NOG EEN UIT DIE OUDE DOOS


DIE UILE VAN MINERVA

Lank, lank gelede, toe die uile van Minerva nog gepraat het,
speel 'n kind in die blonde sand van 'n Somerstrand
maak met tipies kinds outisme, strukture in die sand
bou verbete aan sy grootse, vaste burg
'n veilig fort vir naaste, vriende en familie
met gragte, poorte en kantele
'n borswering met 'n magdom parate troepe
bestendig en beskut teen kwaad van vele.
Met Francescaanse oog vir alles
word ieder korrel sand geleding van die lewe
selfs 'n kosmos in sy eie reg
wat beskik oor konings, keisers hoog verhewe
verbind in bondgenootskap en verdrae
vir ewig trou te bly en sy-aan-sy te veg
en wanneer bullebakke af-en-toe sy bousels
op die hooggety se soom vertrap
begin hy weer van vooraf aan en stap vir stap
herrys sy grootse bouwerk weer, maar nou net beter
teen die hang van die donker duin geleë
aan die rand van die eindelose see
wat ongemerk, maar ook onkeerbaar
sig losmaak van die aardse ankers
wat dit bind aan vaste gronde van die avondland
aan die skadukant van dié planeet
en son en maan en alle sterre saam
die eindelose monnikswerk van mensekind
aan die wilde beuk van sy branding onderwerp
tot hy eind'lik sonder seremonie
op die puinhoop van sy sandkasteel weer vind
sy eíe en die toekoms van sy vaste land!

Hillegem
1 Mei 2004

DIE BRITSE JAAP MARAIS