Quo vadis?
Romam vado iterum crucifigi.*
Dan klim jy maar bang die trappies op
van eeue oue kansels op
plekke soos Zastron, Bethulie, Reddersburg en in die Tweetoring
en jy slaan jou oë op,
jou neus vang die reuk van Vrystaat se son
in die rooi mat se stof op
en jy hoor dalk behalwe die klok se slaan ook balke wat kraak
soos in die Weskerk met rebelle in die dak op
en die Kanselbybel se leer ruik na toom en saals met bittereinders op
en baie leë banke vertel van burgers lank weg
met veggeneraals en presidente wat jaag in die veld met hoede op
onder die sterrehemel soos die ferweel van die kanselkleed met
God is Liefde op
en ruik na brasso en byewas en die
water in die kraffie met die doilie op
proe na brak en buskruit
en in jou ore vermeng die orreltone, die konsentrasiekamp geween op
met O Boereplaas, De la Rey, Prijs den Heer en Heft, Burgers,
‘t lied der vrijheid aan...het oog op
God gerig.
16 Oktober 2013
* Volgens oorlewering het Paulus uit Rome gevlug, toe verskyn Christus aan hom. Hy vra toe aan Hom: “Waar gaan U heen?” Hy antwoord toe: “Na Rome om weer gekruisig te word.” Paulus het toe daar omgedraai.
[Christiaan Potgieter]
No comments:
Post a Comment