DIE SLAG VAN BOET ERASMUS...
Dana Snyman..
Dis ’n verdrietige gesig: die hoofpawiljoen se dak is af. Die rooi plastiekstoele is afgebreek. Oral lê glasstukke en groei onkruid en ruik dit na verval. Iewers kap iemand, kap, kap, kap.
Die vier spreiligte is darem nog hier op hul hoë pale – die ligte wat die aand afgegaan het toe die Springbokke hier teen Kanada in ’95 se Wêreldbeker-toernooi gespeel het.
Daardie wedstryd word ook om ander redes onthou: Die skeidsregter het drie spelers ná ’n bakleiery van die veld gestuur, een Springbok en twee Kanadese. James Dalton. Gareth Rees. Rod Snow. Die hoofopskrif in die volgende dag se koerante was heel voorspelbaar: The Battle of Boet Erasmus. Die Slag van Boet Erasmus.
Nou wei hier beeste in die oopte langs die veld.
“Hulle kom uit die township uit,” sê Michael.
Ons staan voor die hoofpawiljoen en kyk na die oorkant van die veld. Eens op ’n tyd het die pawiljoen daar oorkant twee aparte gedeeltes gehad: een vir witmense en een vir swartmense. Dit is ook waar die heel eerste Slag van Boet Erasmus plaasgevind het. In 1963. Die Bokke het daardie dag hier teen die Wallabies verloor en tydens die wedstryd het party mense bottels na die spelers op die veld begin gooi. Later het wit en swart mekaar ook met goed gegooi.
Nou staan hier ’n man in verslete klere hoog bo in die hoofpawiljoen en kap en breek vir hom een van die losies se vensterraam uit. Die Boet, wat meer as 100 jaar oud is, het ’n aasplek geword vir mense met desperate bouplanne.
Die pale is ook weggedra.
’n Mens is skrikkerig om by die tonnel onder die pawiljoen in te stap. Dit voel asof alles op jou kan intuimel. Michael stap voor, die skemer in. Dan is ons in ’n vertrek wat die plaaslike span se kleedkamer moes gewees het. Dit is geverf in die ou OP-kleure: swart en maroen-rooi.
Die wasbakke is uitgebreek. Die banke teen die muur waarop die spelers gesit het, is weg.
Gawie Carelse, Hannes Marais, Danie Gerber, Frans Erasmus, Pote Human, Garth Wright… Dis almal manne wat hul truie hier aangetrek en hul toks hier vasgeknoop het.
Hier het die hitsige OP-flank Tobie Oosthuizen ook sy befaamde motiveringsdinge voor ’n wedstryd gedoen. Oosthuizen sou glo sommer 'n spanmaat met die kop slaan om hom aan te moedig. Eenkeer het hy glo voor ’n wedstryd die OP-wapen op sy trui so passievol vasgegryp en die trui gepluk – en die trui heeltemal geskeur.
’n Klompie jare gelede, toe geld en politieke ambisie tradisie uit rugby begin verdryf het, is Die Boet se naam na Telkompark verander. Dit was in die selfde tyd toe Telkom, die OP-rugbyunie se hoofborg, die OP-span verneder het met die naam: Die Callmore Olifante. Later, nadat Telkom sy borgskap onttrek het, het Telkompark die OP-Rugbyunie-stadion geword. Maar nou praat almal weer van Die Boet, asof al die ander name net skuilname was.
Ons stap weer na buite, af in die tonnel waar die gepruttel van toks se studs op sement nooit weer sal weerklink nie.
Daar was ook ’n derde Slag van Boet Erasmus. 1974. Willie John McBride se Britse Leeus speel die Saterdag hier teen die Bokke. Klippies Kritzinger, JPR Williams, Moaner van Heerden, arms, voete, vuiste, spoeg, bloed. Gordon Brown tref onder meer vir Johan de Bruyn so hard met die vuis dat De Bruyn se glasoog uit sy oogkas spring. Die spelers gaan op hul knieë en kruip op die grond rond op soek na De Bruyn se oog…
“One of the most violent games ever played,” het ’n Britse joernalis dit genoem.
Die laaste wedstryd is in 2010 hier gespeel. Die groot rugby in Port Elizabeth word nou in die nuwe Nelson Mandelabaai-stadion gespeel.
Hoog op die pawiljoen sukkel die man steeds om die vensterraam uitgebreek te kry. Die beeste wei vredig en lekker. Die pale het waarskynlik by ’n skroothandelaar beland.
Die laaste Slag van Boet Erasmus het met baie meer as net rugby te doen.

(Ek sal graag van mense wil hoor wat hul eie Boet-herinneringe het. Asseblief. Ek sal elkeen erkenning daarvoor in my boek gee.)
No comments:
Post a Comment