My liewe ou Eastern-Province-Herald-On-The-Go-Quiz-spankaptein
…en dan word jy só te na gekom in die onderskrif by hierdie foto…
…wat my herinneringe
natuurlik ligjare ver na antieke ander universums terugvoer en laat wonder wat
van Johannes geword het en wie was nou weer jou broer se spanlede; dis
asof ek my ou Boerbok herinner, maar verder wil dit nie…al onthou ek hoe ek
saam met julle na die Choccieskool toe gery
het in jou ma se swart Wolseley
16/60 en dat die saal telkens vol was met ’n geesdriftige skare!
Die ritte in jou ma se statige
Wolseley (met die wynrooi leerbekleedsel) het my altyd laat dink aan die keer toe
ek as tienjarige kaalvoetklong saam in die destydse Baaise burgemeester se
Chrysler gery het, maar dit was eintlik net per ongeluk, want my oudste broer,
Tjaart, was mos groot pêlle met sy seun, Pieter, en ek was die betrokke
Saterdagmiddag (by die hoogste uitsondering) saam met Tjaart by die Rademeyers wat
in Pickeringstraat 18 gewoon het toe ons nog in Pickeringstraat 35 gewoon het.
Raadslid Rademeyer, wat vir United Dairies gewerk het, moes na die dairy toe gaan en ek en Tjaart &
Pieter mog saam. Ek dink dit was in die omgewing van die Noordeindemeer waar
daar altyd sulke lawaaierige motorbootjies resies geja het of mense geski het.
Terwyl die burgemeester besig
was, mog ons die melkerywerf verken en ek het gedink dat dit maar morsig was en
gelukkig het ons ons melk van die destydse mededinger – wat ek dink Chelsea Dairies was – gekoop en hulle
sou uiteraard baie meer higiënies wees! Die volgende oomblik toe ek my voet
neersit, voel ek ek trap in iets en toe ek afkyk, sien ek dis ’n drillerige stuk
dikmelk seker so groot as ’n sandwich loafbrood -
daardie reghoekige brode wat ek dink nie deur Brito’s gebak is nie, maar deur hulle konkurrente, waarvan die naam my ook nog ontgaan - en die dikmelk peul so tussen my skurwe tone deur analoog aan 'n bol beesmis oppie plaas. Pieter het
gereeld pitswere of bloedvinte gekry en wanneer mense dan gesê het dis “omdat
sy bloed vuil is”, het ek altyd gedink dis as gevolg van sy pa se vuil melk…
Aangesien hulle binne die
PE-Wes gemeente woonagtig was, sal jy onthou die burgemeestersdiens is jaarliks in die PE-Weskerk gehou, al het ons geweet dat hy nooit normaalweg
kerk toe gekom het nie, maar dit was ’n moerse storie met vet
verkeerskonstabels op blouswaailigtende motorfietse
en blinker-as-bottelblink brandweerwaens met brandweermanne-in-erewag vir die
edeldierbare burgemeester met sy indrukwekkende hoofdeksel op – die begin van ’n
grootskaalse bedrogspul, wat my oorlede pa gewéét het, maar in ooreenstemming
met sy opvatting: where ignorance is bliss,... verswyg het.
Só, wanneer
jy skryf
“17 maande om te gaan.
Tree
af Des 2014.
Ek
het baie opgehoopte verlof, so wil vroeer klaarmaak.
Ha ha ek gaan lag vir die arme apie
wat in my plek aangestel word, hy/sy/dit gaan nie weet wat hom tref nie.”
…
…en
“Ek vind die “jonger”
personeel, weier om oortyd te werk.
Hulle steur hulle nie aan
deadlines nie.
Hulle het nie
verantwoordelikheid soos ons generasie nie.
My
seun, Lourens, maak accounting klerkskap klaar Januarie, en wil hier kom werk.
Hy
skroom nie om laat te werk nie, her verlede vrydagaand 19:30 eers van die werk
af gekom.
En
my werkgewer, stel nie belang in hom nie.
Hy
is mos “wit “, so hy moet nie eers aansoek doen nie.”…
…dan begryp ek jou volkome, aangesien
ek op 1 Januarie 1986 as stadsekretaris vir die destydse Ibhayi Stadsraad begin
werk het en gou agtergekom het wat die ware
toedrag van sake is en dit mondeling aan ’n verteenwoordiger van die
destydse departement van ou Chris (Hees) Heunis meegedeel het.
Nie lank daarna nie ontvang ek
die volgende versoek van hulle:
…waarop ek met bekwame spoed
reageer met ’n handgeskrewe verslag wat by die departement getik sou word. Die
einste departement het die “geheime” verslag aan die stadsraad van Ibhayi gelek
en ek is natuurlik summier ontslaan. Onderstaande afskrif van die verslag het
ek eers by latere onderhandelinge bekom, vandaar die tik- en ander foute:
Dis vir my duidelik dat jy nou
niks anders ondervind as wat ek destyds belewe het nie, behalwe, waarskynlik
oneindig erger, want daar is nie meer ‘n “skoonmadepartement” nie – al was
einste skoonmadepartement eintlik my ondergang…
Om terug te keer na die EP
Herald On The Go Quiz, moet ek erken dat ek al iemand hoor fluister het
dat die quizmaster se kinders in
Pearson was…hulle het seker Creamline melk gedrink wat hulle
bloed besoedel het!
Groete
Jou Spanmaat
No comments:
Post a Comment