Rondom die begrip "nasionaal"
II
26 Oktober 1951
My liewe jong vriend,
In die eerste stuk van hierdie lang brief kon ek net op een —
maar vir my die ernstigste — aanklag ingaan wat jy teen my ingebring het. Ek
het erken dat jy my met reg betig waar vroeëre woorde van my die indruk kon
geskep het dat die nasionalisme feitlik 'n godsdiens vir die mens kan wees.
Vandag
wil ek dadelik eers die ander besware opsom — so objektief soos ek kan sonder
om jou hele brief oor te skryf.
Die
tweede kom m.i. hierop neer: die nasionalisme is 'n vergrote portret van die
egoïsme; dit is 'n verheerliking van die eie volk; en hiermee moet dan 'n
miskenning van die vreemde, 'n neersien op ander volke saamgaan — presies soos
die egoïs sy eie waarde so oordryf dat die waarde van ander vir hom onbelangrik
word. En dit, sê jy, kan nie die basis van 'n letterkunde of 'n geesteslewe
word nie.
En
jou derde beswaar sou ek so wou saamvat: die nasionalisme is "eng";
dit kan geen universele gedagte wees nie — geldig vir alle lande en alle tye;
en ook om hierdie rede kan dit nie werklik so 'n basis vorm nie.
My
liewe vriend, ek weet: as ek op hierdie opvattings — die engheid en die egoïsme
van die nasionalisme — ingaan, dan begin ons in 'n moeras van begrippe rondtrap
waarin 'n mens uiteindelik omtrent alle moderne lewenshoudings en alle sondes
van nasionaliste gaan insleep. En tog glo ek dat 'n mens 'n paar gedagtes sal
kan verhelder — as ek die gawe kry om duidelik te praat, en jy die geduld behou
om sonder vooroordeel te luister.
Laat
ons die tweede beswaar beskou: die verheerliking van die "eie", die
self-verheerliking van 'n volk.
Jy
sê in jou brief — en dis waar —: "Nasionaliste is maar te geneig om te
pronk met ‘My taal is die mooiste taal wat daar is’ ..." (Ek vra my af of
sulke "nasionaliste" by ons ooit Totius se verse oor "Die Bantoetaal"
lees:
soos uit so 'n bors van bronsmetaal
so klink by oorvloed van vokaal
die heerlik-ryke Bantoetaal ...?)
"My
land is die beste land om in te leef; ons landsgodsdiens is die enigste ware
godsdiens; ons kultuur is hoog en waardevol ... dit moet teen alles wat vreemd
is, verdedig word, en dit moet eerder op ander oorgedra word as dat ons van
hulle iets hoef aan te neem ..."
Jy het gelyk: daar bestaan mense wat so praat ... of dink; en
hulle bestaan nie net in Suid-Afrika nie. Ook: waar hulle in Suid-Afrika
voorkom, is hulle nie alleen Afrikaanssprekend nie!
Maar
vir hierdie geesteshouding bestaan daar gelukkig 'n woord wat anders is as
"nasionalisme" — nl. "chauvinisme". (Ons in Suid-Afrika
noem dit ook "jingoïsme"; maar ons moet gereed wees om dan ook van
Afrikaanse jingo's te praat.)
Die
chauvinisme is die swart engel van die nasionalisme en bly bestendig naas hom
soos sy skaduwee. Wanneer 'n volk soos die Franse, die Duitsers, of jou eie
mense, die Engelse, in die loop van eeue werklik 'n groot nasionale kultuur
opgebou het — 'n kultuur waarin die mens ten volle mens kan wees — dan kom die
bose engel na die domstes van so 'n volk en fluister vir hulle: "Julle kultuur is die hoogste, ja, die
enigste werklike kultuur op aarde." En hulle glo hom, want hulle ken nòg
hul eie kultuur nòg die van ander volke. (Mag ek jou herinner aan Rhodes wat as
hoogste ideaal om na te streef, gestel het: die heerskappy van die edelste menseras
— die Angel-Saksiese – oor die hele aardbol? Lank voor Hitler het hy hierdie
ideaal opgestel; en in Suid-Afrika het hy nog altyd sy standbeelde en sy
vereerders.)
Werklike
groot nasionale prestasies kan so maklik deur die chauvinisme gevolg word;
daarom juis is dit so dikwels die sonde van die groot nasies. (Ek het twee
voorbeelde genoem, 'n Engelse en 'n Duitse; en die woord self kom uit
Frankryk.)
Maar
ook by kleiner volke kan dit voorkom. By hulle is dit meestal reaksie op
onderdrukking, veronregting of agterstelling. Wanneer die geestelike leiers van
'n onderdrukte volk vir hom deur lang jare geleer het: "Jy is nie niks,
nie waardeloos nie"... dan kom die swart engel en fluister: "Jy is
beter as ander."
Jou
brief beweer egter verder: "Die nasionalistiese selfverheerliking van
volke lei tot minagting van ander volke en is uiteindelik die oorsaak van die
meeste oorloë."
Ek
meen dat ons ná my vorige uiteensetting hierdie sin nou in presieser woorde sou
kon oorskryf: "Die chauvinistiese selfverheerliking van volke lei tot
minagting van ander ... en ... uiteindelik ... tot oorloë. "Dit sou
juister uitgedruk wees — maar nog nie waar nie. Ek glo naamlik dat oorloë nie
alleen hul oorsake in die chauvinisme het nie, maar in veel meer ingewikkelde
faktore: ekonomiese, voedsel- en bevolkingsvraagstukke. Maar dit is waar:
wanneer hierdie faktore 'n volk of 'n hele wêrelddeel tot digby 'n uitbarsting
gebring het, dan gebruik die politieke leiers dikwels chauvinistiese leuses en
slagwoorde om die mense gereed to kry vir die stryd. “Ons veg
vir die behoud van ons kultuur" klink soveel edeler as "Ons veg om
stoflike voordele vir ons groep” of “Ons veg om stoflike voordele vir 'n klein
klompie rykes binne ons groep”.
En
dit is juis omdat die ware nasionalis hierdie gevaar ken dat hy die chauvinisme
as 'n doodsvyand moet beskou. Deur dié se optrede kan juis die kosbare dinge
wat die nasionalisme verdedig, in gevaar kom. Binne 'n magtige en onbedreigde volk
is die nasionalisme altyd krities teenoor die sondes van sy groep; of andersom:
die man wat binne so 'n groep spottend en krities optree teenoor volkseuwels,
is 'n ware nasionalis — al noem hy hom ook iets anders. Maar binne 'n klein,
bedreigde volk moet die ware nasionalis kritiek en aansporing in 'n fyn ewewig
hou — so fyn dat hy seker maar selde voel dat hy sy taak behoorlik verrig.
'n
Laaste woord nog oor hierdie "oorlogs-argument" van jou: dis dikwels nie
die nasionalisme nie maar die miskenning van die nasionalisme wat tot oorloë
lei. Is Europa nie vandag besig om in Oos-Asië vir so 'n miskenning te betaal
nie?
Jy
sal al voel: ek het nog steeds gepraat oor wat die nasionalisme nie is nie,
maar nog nie gesê wat dit is nie. Dit
wil ek nie doen nie, want ek twyfel daaraan of ek hier so dadelik 'n goeie
definisie sal kan opstel. Maar iets positiefs wil ek darem probeer gee.
'n
Mens het 'n volk lief, nie omdat hy heerlik en die beste volk op aarde is nie; jy
het hom lief om sy ellende. (Mag ek vra: "Het jy self die miljoenêrs van jou volk lief?” En as jy antwoord: “Ek
het my volk glad nie besonder lief nie,” dan wil ek vra: "Is dit miskien
omdat jy geen ellende by hulle gewaar nie?" En as jy sê: “Ek het ander
groepe – bv. die Bantoes – lief,” dan vra ek: “Is dit om hul heerlikheid of om
hul ellende?")
Ek
gebruik die woord ellende hier in die
pregnante sin van 'n diep gebrek. En
hierdie ellende is sekerlik nie alleen ekonomies nie.
'n
Ware en bewuste nasionale beweging ontstaan altyd waar enkeles 'n groot
agterstand by hul volk gewaar. Miskien is die ellende ekonomies. Denkende mense
sien rondom hulle: armoede, hulpelose stryd, wanhoop; en hierteen begin hulle
optree. (Wanneer alleen 'n deel van 'n volk ekonomies ellendig is, dan noem
sulke leiers hulself waarskynlik vandag "sosialiste".)
Hier
het jy die reg om te vra: "En as die ekonomiese nood dan weggeneem is, en,
sê nou maar, die hele volk betreklik welgesteld raak, verdwyn die volksliefde
dan — en daarmee die nasionalisme?"
En ek sal antwoord: "Ja: in soverre dit alleen 'n
ekonomiese nasionalisme was, moet dit
dan verdwyn. As ek alleen ekonomies gedink het, en binne 'n ryk volk geleef
het, sou ek my nie in die minste aan hom as
volk gesteur het nie, nie in liefde of in haat nie; en ek sou met my eie
sake voortgegaan het, of my om ander volke se toestand bekommer het. (Is dit
nie wat jy self besig is om te doen nie?) En vandag is dit sekerlik met die
Afrikaner ekonomies beter gesteld as vyftig jaar gelede. Daarom stel die
ekonomiese nasionalisme nie besondere eise aan my nie."
Maar
'n mens dink nie alleen ekonomies nie; en die ellende waarvan ek gepraat het,
is nie alleen stoflik nie. By 'n volk vir wie 'n mens werklik liefhet, sien jy
sy vooroordele, sy kleinlikhede, sy geestelike agterstand. (Sien jy niks
hiervan by jou eie mense nie?) Sou 'n mens nie selfs 'n miljoenêr kon
"liefhê" nie wanneer jy aan sy verskriklike menslike beperkthede dink
nie?
Maar
ons gebruik die woorde liefde in
hierdie verband in 'n baie vreemde sin — omdat ons geen beter woord het nie.
Die liefde waarmee 'n mens ’n volk liefhet, is nie soos die tussen ’n man en ’n
vrou nie; dis eerder soos die liefde waarmee 'n mens 'n kind liefhet. Dis nie
in hoofsaak gerig op deugde of krag of skoonheid nie, maar op swakheid,
verblindheid hulpeloosheid en ’n blote
moontlikheid.
Ek
dink hier aan die woorde van 'n groot Joodse nasionalis, Martin Buber. Hy praat
van 'n Jode-vriend, Ragaz (ek haal die Nederlandse vertaling aan, want jy kan
gerus meer Nederlands lees as jy wil verstaan na watter kant toe ons Afrikaanse
kultuur ook sy voedingsbronne het), en hy skryf: "Hij zag even goed als
wij zelf, van hoe twijfelachtige aard onze innerlijke existentie is, hoe
ontoereikend de kracht van onze ziel, hoe gebrekkig onze lewensvorm, hoe
ontwricht onze volksbouw tot in het diepst van ons wezen. Maar ook heeft hij
gezien, hoe in aanleg in ons verborgen ligt, het twijfelloze, het absolute, het
feilloze, het evenwichtige, dat voor de ogen van de echte vriend evenals voor
ons eigen weten, door al onze problematiek onaantastbaar heen schemer."
Nee, dis nie verheerliking van die eie volk wat 'n man so laat praat nie.
Maar
nou — tot aanstaande week toe!
NP van Wyk Louw
[Uit: Liberale Nasionalisme, 1958]
No comments:
Post a Comment