Joerie, joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood

Saturday, November 4, 2023

soldate weet...

 - of jy HEIDEN, JOOD of MOHAMMEDAAN IS -

... die meeste van die tyd

is dit "hurry up and wait",

maar wanneer jy KONTAK, KONTAK, KONTAK slaan

gaan die verstekinstelling aan:

word jy meedoënloos doodsmasjien

wat niks of niemand meer ontsien.


soldate weet...

of jy HEIDEN, JOOD of MOHAMMEDAAN IS -

... in die hitte van die stryd

maak geen goed of kwaad nog uit

jy veg vir geen volk of vaderland

selfs geen vriendskaps- of familieband.


soldate weet...

of jy HEIDEN, JOOD of MOHAMMEDAAN IS -

... geen heldedom of -daad bestaan meer

alles wat beweeg skiet jy neer

dis ek of jy: jou dood is my beste kameraad

my mees menslike, o, so menslike, daad.


[Najaar 2023]

1 comment:

  1. Niemand sal dit in vandag se tyd graag hoor nie, maar soos enigiemand wat William Golding se "Lord of the Flies" gelees het, weet: gegee die regte omstandighede, is elkéén van ons 'n soldaat.

    ReplyDelete