Om deur te breek deur dit wat mense
sien as perk van jou vermoë;
om vas te weet die gees se grense
word bepaal deur wat jy glo;
Om van die wêreld om en in jou
te bewaar vir dié wat kom;
om alles wat die lewe inhou
na te speur tot by die bron.
Om te verfyn wat onvolmaak is,
die gees se vlugte vas te pen;
om aan te gryp wie ongeraak is,
om skerp te kyk en diep te ken;
Om na te streef wat hoog en blink is
en in jou grootheid klein te bly;
om te bepeins wat nooit gedink is
en jou neerlae te bely.
Om voort te gaan as ander ophou,
selfs van vooraf te begin;
om uit die puin weer te kan opbou
en jou neerlae te oorwin.
[Koos du Plessis]
Sedert die aanvang van my
ballingskap, is ek uit innerlike bewoënheid besig om die grondveste van my
bestaan en lewens- en wêreldbeskouing deurtastend te ondersoek.
Dié disseksie en beskouing fokus
onder andere
· op die aard van my/die lewe;
· op my synde as sodanig;
· op my geloof;
· op my toekomsverwagtinge;
· op my eie
en die identiteit van my volk.
Wanneer ek my afvra: “Wat is (die) lewe?”, en in die
antwoord probeer onderskei tussen dinge wat léwe en dinge wat nié lewe nie, dan
loop ek my vas, want op ’n kontinuum van “mees anorganiese” of “lewelose” aan
die een kant, tot “mees organiese” of “lewendige” aan die ander kant, vind ek geen onderbreking – daar bestaan geen
natuurlike (óf “kulturele”) gaping wat dui op ’n oorgang van die anorganiese na
die organiese nie.
My synde is, in aardse terme, niks
buitengewoons – die aarde, met alles daarop en daarin,LEWE: van die
hardste, skitterende diamant tot die onopvallendste, vale mens LEWE!
Nóg is het einde niet: volgens die
getuienis van die grootste natuurwetenskaplikes - oor minstens die laaste
halfeeu - bestaan daar nêrens in die universum lewe soos wat ons dit ken nie en
dit maak gevolglik die aarde uniek in minstens hierdie heelal en elke volk
uniek op hierdie aarde en elke individu uniek in iedere volk!
{Soos wat oorlog die voortsetting van
diplomasie op ’n ander wyse is, só is “dood”die voortsetting van die lewe in ’n
ander (verskynings)vorm.}
[Dit is nié energie wat nie geskep
of vernietig kan word nie, eerder lewe.]
Indien dit wáár is, wat word
· van die
beweerde heiligheid van die lewe?
· van
(byvoorbeeld) fundamentele menseregte?
· van
teenkanting teen geweld?
· (wat ís
geweld dan?)
Gerard
Bodifeé skryf in
sy boek, Ruimte voor Vrijheid, dat die groot verdienste van Johannes Kepler en Thomas Hobbes onder andere daarin geleë was dat hulle die
werklikheid probeer verklaar het sonder om hul subjektiewe, persoonlike
voorkeure daarop af te druk.
Sir Isaac Newton het by geleentheid geskryf
(sonder erkenning, soos dit blyk): “If I have seen further it is by standing on
the shoulders of giants.”
(Dit lyk vir
my asof Newton veronderstel was om erkenning te gee aan Bernard van Chartres, wat gesê het: “We are like dwarfs on the
shoulders of giants, so that we can see more than they, and things at a greater
distance, not by virtue of any sharpness of sight on our part, or any physical
distinction, but because we are carried high and raised up by their giant
size.”)
My roeping is egter om vas te stel waarop die reuse staan en wanneer ek
daardie basis ondersoek, vind ek “...dat
waar ek ook al my voet sit, is water.”
Of soos Ou Oom “Maer” Willem, in die motto van N.P. van Wyk Louw se Swaarte-
en Ligpunte, dit stel: “Weet
jy jong, ek het nog altyd só ’n beskouing van klippe gehad: daar waar ons meen
sit sy swaarheid: daar is dalk iets ligs.”
Wanneer ek my lewe en dié van die
aarde met alles daarop en daarin en die getuienis van die (reuse)
wetenskaplikes oor die kosmos beskou, dan is dit duidelik dat daar weinig,
indien enige, sprake van ’n voltooide skepping bestaan, inteendeel: die
"geskape" werklikheid is onophoudelik besig om te verander: om méér
werklikheid te word en “orde” of “ordelikheid” steeds minder.
Ek besef dan dat die enigste
moontlike sin of betekenis wat daar bestaan, dié is wat ek self aktief aan die
werklikheid gee en dat dié onderworpe is aan die reuse skouers waarop ek
noodwendig en ongevraagd tereg(ge)kom (het), met dien verstande dat ek ook
besef dat die reuse ook maar ’n poging aangewend het om orde en begrip te stig
in ’n “chaotiese” werklikheid, wat nog steeds onophoudelik en onstuitbaar
verander.
Wanneer ek in al dié onsekerheid my
lewe lei/ly, kan ek slegs ’n gekwalifiseerde peiling op die reuse neem ... ’n
terugpeiling op my afkoms en geskiedenis… en ’n vooruitpeiling op my doel. Op
dié wyse vind ek my posisie in ’n wanordelike universum.
... en in pragtige, perfekte Ptolmaïse
konsentriese sirkels brei dié insig uit van mý na my gesin, na my volk en
verder na dié wat wíl...
O Wye en Droewe Land
O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit ’n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis?
Jy ken die pyn en eensaam lye
van onbewuste enkelinge,
die verre sterwe op die veld,
die klein begrafenis;
eenvoudige mense wat getrou
en enkeld bitter dinge doen,
en enkeld val soos korrels saad;
stil daad, klein trou, klein
trouloosheid
van dié wat om ’n ander diens
soos knegte jou verlaat.
Sal nooit ’n magtige skoonheid kom
oor jou soos die haelwit somerwolk
wat uitbloei oor jou donker berge,
en nooit in jou ’n daad geskied
wat opklink oor die aarde en
die jare in hul onmag terge;
’n grootsheid van so suiwer glans,
dat mense in ’n verre land
wat van jou naam die melding hoor,
met wilde en helder oog sal staar
soos vroeë vaarders in die nag
verslae gesien het kim bo kim
die nuwe, blom-groot sterre styg
óp uit jou see se wit gevaar?
[N.P. van Wyk Louw]
No comments:
Post a Comment