Afrikaner: Ploegbreker en Jannie Martelgat
GUSTAV VENTER 26 Mei 2013
Ontmoet Retina Zeyheri, veldplant. Nie
'n asemrowende blom nie – so 'n dieporanje kloktrossie wat ondertoe hang soos
die lelle onder 'n kaalnekhoenderhen se kinnebak. Die stam is bros en besaai
met wit dons. Die blare is groot, tabakplantagtig. Alles inaggenome lyk dit nie
na 'n baie intimiderende plant nie. En tog, hier waar ek in die Oos-Vrystaat
bly, benader 'n saaiboer hierdie stuk flora met die grootste ontsag. Hulle noem
hom die ploegbreker.
Onder die grond het
hy so 'n digte weefsel wortels dat 'n ploeglem maklik daarin vasslaan en
afgeruk word. Die protea is Suid-Afrika se nasionale blom, maar laat Retina
Zeyheri die embleem van die Afrikaner wees. As ons weens 'n wringslag van die
geskiedenis teruggestort word in 'n elektrisiteitslose wêreld en ridders maak
weer hulle verskyning, laat die Afrikaner-kavalier 'n ploegbreker op sy skild
aanbring.
Gehardheid is ons
een enkele onderskeidende volkseienskap. Vandat 'n spul weerbarstige Hollanders
aan die voetenent van die kontinent uitgeplant is, en later kruisbestuif is met
die beste Franse bloed en die onuitwisbare, geharde gene van Duitse
huursoldate, het hierdie plant die ploeë van wêreldryke, 'n onstuimige
vasteland en 'n afgunstige horde geweldenaars gebreek. Hulle het ons verwerp,
verwilder, verjaag, verdruk, oorval, vasgekeer, verdelg, beledig, verraai,
vertrap, verkrag, verlei... en hier is ons steeds, gereed om nog êe en disse
van rame af te ruk
.
Al hierdie mense
het dit vergeet, en dit is 'n liederlike flater.
Die feit dat die
Andere die Afrikaner se ploegbrekerwortelstelsel verontagsaam en hom sien as 'n
eenvoudige veldblom wat met gemak uit die vlak aardkors geskoffel kan word, is
erg en dis irriterend, erg irriterend, maar wat baie erger is, en onhoudbaar
meer irriterend, is dat hierdie miskenning nou dreig om die
hoofstroom-Afrikaner-denke te deurtrek.
Dis 'n sonbesiekoor
in die samelewing van ons tyd: Hulle het ons land gevat, hulle het ons werke
gevat, hulle het ons universiteite gevat, hulle vermoor ons in die stede, hulle
vermoor ons op die platteland, hulle verander ons dorpsname, hulle vat ons
skole...
En sekerlik het ons
die volle reg en omvattende redes om te kla, en my oog is nie weggedraai van
die ellende en my oor is nie toegestop vir die klagtes nie. Maar om Vadersnaam,
hierdie krisisse is Afrikaner-krisisse en moet in die huis van die volk en nie
in die straat van die Andere behandel word nie. Daar is niks so stoer soos 'n
stoere Afrikaner nie, en blykbaar niks so pateties soos 'n patetiese Afrikaner
nie.
Ek verstaan nou hoe
Basjan gevoel het. Basjan Basson was 'n skoolvriend, bietjie ouer as ek, en
"Bombastiese" sou 'n nommerpas alliterasie gewees het om saam met die
Basjan en die Basson te gaan: Bombastiese Basjan Basson. Maar weet dít van
Basjan, hy was 'n hartstogtelike patriot. Op 'n dag gaan draf hy – ter
voorbereiding van 'n voetbalseisoen op vaskopstut – deur 'n vervalle
mynnedersetting aan die buitewyke van Brakpan, en kom hier op 'n afgryslike
toneel af: 'n Alkoholdeurdrenkte, wit ou man, sit in die venster van 'n huisbouval,
maer boude na buite, en ontlas. Wat die jong Basson die diepste gekrenk het,
was die kringetjie van swartmense wat in die onmiddellike omgewing gestaan en
die oukêrel uitgejou, gekoggel en met die grootste ironie aangemoedig het. In
sy walging en verontwaardiging was daar net een ding waaraan Basjan kon dink –
hy het klippe opgetel, nie om die kring van die spotters te verjaag nie, maar
om die ouman in sy daad van selfvernedering te stuit.
Want wanneer het
die Afrikaner so pateties geword dat hy voor die oë van die Andere deur 'n
gebreekte venster skyt?
Die gekwetter in
die kanariehok het hierdie week grotendeels oor 'n BBC-dokumentêr en
gepaardgaande internetartikel gegaan. "Het witmense 'n toekoms in
Suid-Afrika?" vra die titel, en die stuk se slotsom is: Errr... nie
eintlik nie. Eintlik, lees 'n mens, is die witmens dubbel-en-dwars in sy ghwar
in – net plakkerskampe en witkruise waar jy kyk. Die swartman is die indoena
van alles wat hy beskou – en daarby alles ingesluit wat eens die Afrikaner s'n
was. Moet net nie te jammer voel vir die witman, nie, maan die artikel, want hy
is nog heeltemal te ryk, besit heeltemal te veel effektebeursaandele en beklee
heeltemal te veel posisies. Buitendien – en dis 'n groot buitendien – hoe vrot
dit ook al met hom gaan, hy verdien veel erger as gevolg van die drie eeue se
sistematiese onreg wat hy teenoor swartes gepleeg het.
So, dit gaan
ellendig met hom, maar nie so ellendig as wat dit in die toekoms sal gaan nie
en dit is sy verdiende loon. As daar nou een soort artikel is waarin die Andere
hulle verlustig, is dit in hierdie styl. Vir hulle is geen idee aantrekliker,
tintelender of meer genotverskaffend as dié van 'n Afrikaner wat so afgetakel
is dat hy deur die stukkende venster van 'n bouvallige huis skyt nie.
Die spotters
versamel in 'n halfmaankring om die petalje te geniet en 'n spotter is niks
indien nie meewarig nie. Voeg een uit Zimbabwe 'n Sjona-spreuk as kommentaar
tot die storie by: "Die byl wat die boom sny vergeet dit maklik, maar die
boom wat gesny is, vergeet nooit," bedoelende natuurlik dat die Afrikaner
se huidige ellende toe te skryf is aan die onreg wat hy teen die swartmens
gepleeg het.
Dankie daarvoor,
maar dit lyk vir my of die makker tog vergeet het wie en wat die byl is en hy
het geen idee, géén idee, van hoe diep en seer die byl kan byt as dit nodig sou
wees nie. Dis erg genoeg dat die bome nie die byl behoorlik kan onthou nie,
maar dit is tragies dat die byl self vergeet het wat hy is.
Ek praat seker dan
net namens myself, maar ek is ter dae sat van Afrikaners wat buite die laer
neul oor hoe sleg dit met ons gaan. Hier word nie eers van die Max du Preez-
Tim du Plessis-soort liberale Afrikaner gepraat nie. Hulle het net geen reg om
inhuisig of buitemuurs te kerm oor die huidige regering nie. Dit was die
noodwendige gevolg van wat hulle bepleit en waarvoor hulle hulle bewyer het.
Hulle moet maar grinnik en kopknik en ja-baas, nee-baas.
Maar daar is nou
soveel goeie, volksvaste Afrikaners wat by die bure en die res van die
wêreldgemeenskap wil gaan neul. Sowaar? Is dit ons beste oorlewingstrategie? Om
in die openbaar te kerm? Van wanneer af het die Afrikaner so pateties geword
dat hy deur 'n oop venster skyt? Van wanneer af het die Afrikaner 'n Jannie
Martelgat geword?
Miskien dink hulle
die strategie is 'n wenner omdat dit vir die swartman gewerk het. Ja, dit is
so, as die swartman se onderlip bewe, gaan die Westerling se beursie oop. Maar
dan betaal hy wel vir iets wat vir hom waarde het – die selfverheffende gevoel
dat hy 'n ondergeskikte, hulpelose ellendeling gehelp het. Maar in Afrika is
dit nét die swarte wat hom so laat voel. Die Westerling weet instinktief dat
die Afrikaner skrander, hardwerkend, gedug genoeg is om na homself om te sien.
Hy het geen moeite om sy beursie in sy sakke te hou nie al huil die Afrikaner
riviere van snot en trane.
Dis tyd dat die
ploegbreker onthou wie hy is. Daarom is geskiedenis belangrik. Ek het tans die
uitsonderlike voorreg om 'n boek oor die geskiedenis van die Brandwaterkom te
redigeer en uit te lê. Hier darem, sien jy die ploegbreker op sy beste.
Hierdie mense het
in 'n ongerepte vallei opgedaag. Daar was geen tuiste nie. Maar hulle het nie
gekla nie. Hulle het plase uitgelê en begin werk. Daar was nie bome in die
Oos-Vrystaat nie, so hulle het huise van sooie gebou.
Dit was bergwêreld
en die velde was bestrooi met klippe. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle
het die klippe opgetel en uit die veld gedra.
Die grond was
moeilik. Maar hulle het nie gekla nie. Met die mees primitiewe implemente het
hulle landerye geploeg en boorde aangeplant.
Daar was baie
ongediertes, afgunstige inboorlinge en wilde diere. Maar die mense het nie
gekla nie. Hulle het klippe teen oorhangkranse gestapel en veekrale so gemaak.
Dit het dekades
geduur vir die eerste tekens van voorspoed om te verskyn, toe verdryf die
Engelse boere tydens die Oorlog en brand die huise en plase af. Maar die mense
het nie gekla nie. Hulle het voortgeveg.
Die mans het
bittereinders geword of is gevang en gedeporteer. Hulle het nie gekla nie. Op
kommando het hulle die Kakies op hulle herrie gegee. In Ceylon het hulle die
gevange seuns leer skryf, hulle het viole uit hout gekerf, skaakstelle gemaak,
kerk gehou.
Die Engelse het die
vrouens gejag. Maar die ma's het nie gekla nie. Hulle het in die snerpende koue
wegkruipertjie met die Engelse in die berge gespeel en deur die winter met
hulle kindertjies in grotte geslaap.
Na die oorlog was
daar niks om na terug te keer nie. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle het
voor begin. Die eerste dae het hulle balke skuins teen afgebrande huise se mure
gepak en dit met sooie bedek vir skuiling teen die nagkoue.
Dit het bloed en
sweet en trane gekos, maar 'n anderhalfdekade later het hulle weer begin
voorkom. Toe breek die rebellie uit en hulle aspirasies word verpletter en
hulle leiers gevang. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle het die
Helpmekaarfonds begin en Generaal de Wet en die ander se boetes betaal en hulle
bevry.
Die depressie het
hulle inkomste uitgewis. Maar die mense het nie gekla nie. Hulle het
deurgedruk.
Die Engelse wou nie
vir die Afrikaner hulle eie skole, universiteite en koerante gun nie. Maar die
mense het nie gekla nie. Hulle het hulle pennies opeengehoop en hulle eie
skole, universiteite en koerante begin.
Die Afrikaner is as
tweedeklasburger behandel. Maar hulle het nie gekla nie. Hulle het net harder
gewerk, kanse aangegryp, maatskappye gestig en ander oorgeneem, geleer, nog
harder gewerk en uiteindelik die regering oorgeneem.
Vandag se Afrikaner
is onmeetbaar ryker as die pioniers van die Brandwaterkom. Hulle het kennis,
geleenthede, vaardighede, opvoeding. En die mense kla.
Hou dan tog net op
neul. As dit net sou werk – maar dit gaan nie. Jy is nie swart nie. En ons as
volk het geen rede om te kla nie, want daar is nie een probleem wat ons nie kan
oplos nie.
Hou op om in die
wêreld se ore te neul. Wit plakkerskampe is nie die Britte se probleem nie –
dit is die Afrikaner s'n. Die aanslag op Afrikaans is nie die Hollanders se
krisis nie – dis die Afrikaner s'n. Die Suid-Afrikaanse moordvlaag is nie Swede
se ellende nie – dis die Afrikaner s'n.
Moenie met 'n
witbrood onder die arm kla nie, het die oumense gemaan. Eweneens, as jy oor jou
I-Phone 5 vanuit die plaaslike BMW-vertoonlokaal, terwyl jy wag vir die
koopdokumente van jou nuwe 7-reeks om gefinaliseer te word, by my probeer kla
oor, sê maar die armblankeprobleem, luister, ek wil niks van jou hoor nie.
As jy te lui is om
jou patrolliebeurt by die buurtwag te doen, stel ek nie belang as diewe jou
huis stroop nie.
As jy te verhewe is
om 'n pistool saam met jou te dra, wil ek nie hoor hoe jy kla oor ons bokshelde
wat by 'n partytjie doodgeskiet is nie.
As jy nie by jou
skoolbeheerraad inval nie, wil ek nie hoor hoe jy sanik oor die verengelsing
van ons skole nie.
As jy te bliksems
lui is om behoorlike Afrikaans te praat en die taal besmeer met goedkoop
Engelse woorde en frases, het jy geen rede om te snik oor die taalbeleid by
Maties nie.
Wanneer het die
Ploegbreker 'n Jannie Martelgat geword?
Wat my betref, ek
wil aan geen ander volk op enige ander plek in enige ander tyd wees as nou nie.
Dié wat dink hulle is die landbouers versamel weer teen ons. Laat hulle kom.
Ons sal húlle ploeë ook breek.
Ek ken die
Afrikaner. Ek ken die Ploegbreker.
Maar jy, Jannie
Martelgat, gaan van my af weg. Ek ken jou nie.