Beste Steve Hofmeyr
Jy sal dit waarskynlik nie sommer gló nie, maar ek en my gesin ken jou nouliks.
Aangesien ek oorwegend Afrikaner-patriotiese webblaaie besoek, het ek toenemend kennis geneem van jou bestaan, wel & weë en jou Steve-Stem-Innibosvideo
was die finale impuls om my meer oor jou te laat uitvind: ek wou weet wat jou agtergrond is en waar jy vandaan kom.
Só het ek onder andere gewonder of jy miskien familie is van 'n vriendin van my ma in die sestiger/sewentigerjare in Port Elizabeth - sy was tannie Rosemary Hofmeyr en haar man was oom Vella - maar ek kan geen sodanige inligting op die internet opspoor nie.
Hoe meer ek van jou te hore & te siene kry, hoe meer kom ek onder die indruk van jou besonder eerlike lewens- en wêreldbeskouing: dit lyk nie vir my asof jy voorgee om enigiets anders te wees as wat jy ís nie.
Uit die inligting wat ek wél op die internet gekry het, is dit vir my nogal verklaarbaar waarom ons so weinig van jou weet.
Op die stadium wat jou loopbaan begin het, het ons (uit keuse) nie 'n TV by die huis gehad nie en ons moes, byvoorbeeld vir FW de Klerk se kapitulasietoespraak in 1990
'n draagbare TV by 'n destydse kollega leen.
Dié toespraak was nie vir ons die skrif aan die muur nie, maar 'n bevestiging van dít wat ons al sedert 1986 onweerlegbaar vermoed het en waarvan jy híér bevestiging sal kry.
My (Suid-Afrikaansgebore) Vlaamse vrou het ná bogenoemde volksverraadverklaring voorgestel dat ons met ons drie klein seuntjies liewer uitwyk na haar vaderland en ons het dit 'n jaar later gedoen en oorleef nou al byna vier-en-twintig jaar in Vlaanderen, vanwaar ons die "reilen & zeilen" in die Nuwe Suid-Afrika met toenemende kommer volg - indien enigiemand óóit getwyfel het aan die toepaslikheid van die sogenaamde padda-in-die-potsindroom op die Afrikanervolk, dan moet hy nóú na die Afrikaners in hul kokende borrelbaddens gaan kyk...
My ma wat intussen oud geword het, het altyd gesê: "Koop liewer vir jou die slegste huis in 'n goeie woonbuurt as die beste huis in 'n slegte woonbuurt.
Toe ek destyds by Ibhayi aangestel is, was ek bereid om my solidariteit te bewys deur in die swart woongebied te gaan woon en beide ek & my vrou het Xhosalesse begin neem totdat hulle ons bakkie met klippe bestook het en ek vir my vrou gesê het dis te gevaarlik vir 'n (met ons eerste seun) swanger vrou.
Vandag oorleef ek eerder in 'n bouval in Vlaanderen as in 'n paleis in die lokasie wat die hele Suid-Afrika vandag is... nie alleen fisiek nie, maar veral wat al die ander aspekte betref.
Blý die goeie stryd stry!
Petrus Potgieter