Die waarheid is outobiografies
Einde verlede jaar het ek ʼn bietjie navorsing gedoen oor iets wat dan nou sou bekend staan as postmoderne spiritualiteit. Toe het ek ʼn akademiese artikel vir ʼn internasionale vakjoernaal geskryf met die titel: Postmodern spirituality: experience rather than explain.
Daarin het ek geskryf hoe die groot Duitse teoloog van die vorige eeu Rudolph Bultmann gesê het dat feite rondom Jesus en die Christelike dogma eintlik niks sê en niks in sigself vir ʼn mens se geloof beteken nie. Jy moet die Christelike verhaal ontmitologiseer voordat dit vir jou sin maak. En waar dit eintlik die meeste sin maak, is wanneer jy tydens die prediking van die verhaal, geloof ervaar. Geloof gebeur dus nie wanneer jy die feite aanvaar nie, maar wanneer jy verkondiging hoor. Die prediking is dus op ʼn manier ʼn tipe “happening” waartydens jy ʼn ervaring het van wat die kruis en die opstanding dan nou sou beteken.
Weg van die teologie af was daar die sielkundige Carl Jung wat reken dat elke mens met bepaalde template in jou onderbewussyn gebore word. Alle mense op al die verskillende plekke op die aarde besit hierdie template in hulle onderbewuste. In elke kultuur funksioneer daar dan ook ʼn corpus mitologieë. Alle kulture se mites vertel dieselfde tipes verhale, elk net met ander karakters teen ʼn ander dekor wat binne daardie kultuur aanvaarbaar is. Wanneer jy dan tydens godsdienstige of kulturele byeenkomste hierdie verhale of mitologieë hoor, of dit in rituele beleef, maak dit op een of ander manier kontak met jou onderbewussyn en die templaat in jou onderbewussyn erken die grondpatroon van die verhaal en maak dan oop daarvoor, en so ervaar jy hierdie diep oomblik wat vir jou sin maak, sonder dat jy regtig kan verklaar wat met jou gebeur het.
Weg van die teologie en die sielkunde af, is daar die literêre filosoof, Ernst Cassirer wat verduidelik wat die verskil is tussen allegorie en tautegorie. Allegorie is om taal, simbole en metafore los te maak uit hulle oorspronklike konteks en om dit net so van toepassing te maak in ʼn ander tyd en konteks. Dis wat ons vandag by die fundamentaliste sien. Dit staan teenoor die tautegoriese lees van ʼn verhaal, waar jy dieselfde ervaring wil hê as die oorspronklike leser. Dit kan jy alleen hê as jy simbole en metafore vertaal in ʼn eietydse idioom wat dan dieselfde tipe ervaring by jou sal wakker maak as die ervaring wat die eerste aanhoorder van die verhaal sou gehad het.
Dit bring my toe by die konklusie dat spiritualiteit nie te doen het met ʼn stel feite of ʼn belydenis of iets wat jy aanvaar en wat jy kan verduidelik nie, maar dat dit eerder iets is wat jy ervaar of beleef en wat jy nie presies kan verduidelik nie.
Die artikel het so 2 weke gelede verskyn en ek lees dit toe weer. ʼn Dag of drie nadat ek dit gelees het, lees ek verder aan die boek van Andre Comte-Sponville met die titel: “ Atheist Spirituality” wat gaan oor spiritualiteit sonder ʼn teïstiese God. Daarin skryf hy toe ook ʼn gedeelte waarin hy vertel hoe spiritualiteit nie iets is wat met godsdiens te doen het nie, maar hoe dit ʼn ervaring is van jou teenwoordigheid, jou immanensie in hierdie werklikheid. Hy vertel hoe ʼn mens amper op ʼn mistieke en misterieuse wyse jou teenwoordigheid as deel van die groter geheel ervaar en hoe hierdie bewussyn ʼn spirituele ervaring word.
Dadelik ervaar ek toe hierdie konneksie tussen hoe ek dink en hoe hy dink. Die feit dat ons so dieselfde oor hierdie aspek dink, was op daardie oomblik toe vir my nogal ʼn eienaardige spirituele ervaring.
Dinsdag kry ek ʼn epos van die universiteit af met ʼn briefie by wat vra of ek die artikel in die aanhangsel sal keur. Dis ʼn artikel wat voorgelê is vir moontlike publikasie in ʼn vakwetenskaplike tydskrif van die fakulteit teologie.
Hulle stuur altyd die artikel anoniem, maar ʼn paar sinne in die eerste paragraaf in, toe weet ek dat Julian Muller die outeur is en dat dit gaan oor sy nuwe boek “Om te mag twyfel”, wat onlangs by Tafelberg verskyn het. Daarin maak hy toe die interessante opmerking wat by dieselfde punt uitkom, as Bultmann, Jung, Cassirer, Comte-Sponville en dit wat ek al baie kere vir u gesê het, naamlik dat ʼn mens se spiritualiteit outobiografies is.
Jou ervaringe van die lewe word ge-storie. Jy dink na oor dinge en jy reflekteer oor gebeurtenisse. So ontstaan daar nuwe verhale in jou. En so formuleer jy dan jou persoonlike teologie. Jou spiritualiteit word dus gevorm, nie op grond van argumente nie, maar op grond van verhale. Ja, verhale is vol argumente, maar dit is kontekstuele argumente! Argumente los van verhale word a-kontekstueel, a-histories en uiteindelik irrelevant. Nutteloos en magteloos!
Maar stories is nie net ʼn manier om jou ervaringe mee te beskryf nie, dit help jou ook om jou eie realiteit mee te konstrueer. Dit is iets wat jy gebruik om betekenis aan jou ervarings mee te gee. Die proses werk met ander woorde so:
Jy ervaar of beleef iets. Dan formuleer jy jou ervaring in taal. So vorm jy ʼn verhaal. Dan vorm daardie verhaal jou om die mens te word wat jy is. Dit word dan, of dit gee aanleiding tot ʼn nuwe ervaring. En so word die lewe ʼn nimmereindigende proses van storie en word… en word en storie.
En dis alles outobiografies want dit is jou ervaring en jou storie en jy word daardeur gevorm. Jou storie gegrond op jou ervaring word jou spirituele proses. En so wórd jy en erváár jy en vórm jy aan jou verhaal en op die ou einde aan jouself! Hierdie proses is jóú spirituele ervaring van die lewe. En so word jou lewe dus ʼn verhaal wat nooit klaar vertel is nie. Dit word voortdurend. En hierdie wordingsproses is spirituele groei!
Mentor for Life
Trouens, soos vroeër praatjies neig dit sterk daarna om tereg te onderskei tussen begrippe soos geloof, religie, godsdiens, kerk en geestelikheid - 'n onderskeid wat 'n sine qua non is om dié dinge (behoorlik) te begryp.
'n Wetenskaplike of feitelike verklaring van dinge wat die onderwerp van geloof vorm, beëindig summier die geloof-waardigheid of "gelooflikheid" van sodanige geloofsartikels. Geloof is per definisie wetenskaplik onverklaarbaar, bonatuurlik en onbewysbaar - 'n mens sou byna kon sê ongelooflik - anders sou dit nie geloof gewees het nie.
Sodra ('n) geloof(sartikel) wetenskaplik (of "andersins") bewys of bewysbaar is, is dit nie meer geloof nie.Dis presies dít wat geloof só almagtig maak: dit is nie onderworpe of gebonde aan "wetenskaplike" of ander wette nie.
Dít is gevolglik waarom die Bloedriviergebeure en -Gelofte die vestigende Afrikanermitologie is - om by Carl Jung aan te sluit.
Ons sal nooit kan bewys dat dit wat by Bloedrivier gebeur het 'n wonderwerk was nie - die Voortrekkers het immers vuurwapens gehad - maar ek wíl gló dat dit 'n bonatuurlike gebeurtenis was (en daarvoor hoef 'n mens nie "godsdiensgelowig" te wees nie), wat my bring by die Nietzschiaanse WÍL, wat niks anders is nie as DF Malan se:
Glo in God!
Glo in U volk!
Glo in Uself!